VICTORIAVALLE / CHOBE (2020)

(BUSTOER)

09 MAART - 21 MAART 2020

Dit is nog net ses maande dan betree ons 2020. Na vele gesukkel om plek te kry – bykans ‘n jaar voor die tyd – sit al die voëltjies nou uiteindelik almal langs – of is dit agtermekaar – op die draad. Aan hierdie “moettoer” het ons geskaaf om dit ‘n toer te maak met nog meer waarde vir geld. Ook maak ons dit nog makliker om te besluit. ‘n Klein deposito om u plek te verseker die balans kan betaal word soos elkeen dit goeddink - of dit die begroting pas - met dien verstande dat die volle bedrag ‘n maand voor die tyd ten volle betaal is. Maart blyk ook ‘n goeie keuse te wees nie te warm nie en ook nognie te koud nie.

Dag 01. (09 Maart 2020)

Ons vertrek vroeg vanaf Vanderkloof - die dorpie langs die tweede grootste dam in Suid Afrika - en kan gaste oplaai langs die pad – van Orania tot en met Jan Kempdorp. Ons eerste stop is by Olives / Pecans SA by Hartswater. Omdat die eerste dag ‘n redelike lang dag is voordat ons ons bestemming bereik vra ons dat elkeen vir hom / haar ‘n ietsie insit vir ontbyt. Dit is bloot net om tyd te spaar. Daar is ook ‘n grenskruising wat soms tyd neem. Vir middagete hou ons piekniek langs die pad soos lank gelede. Die aand kuier ons om ‘n braaivleisvuur maak kennis met mede gaste.

Dag 02. (10 Maart 2020).

Die dag begin met ontbyt en daarna pille drink, tandeborsel en sleepwa laai. Ons is in die hoofstad van Botswana waar daar vooruitgang is met padwerke en goeie paaie. Stop vir ‘n teetjie by die Steenbokskeurkring. Hier is moeite gedoen om jou te laat besef waar jy is en deur watter lande loop die skeurkring. Die hoofpad na die noorde loop bykans teen die Oostelike grens van Botswana met Suid Afrika. Dorpe met name wat so maklik deur ons verkeerdelik uitgespreek word. Mahalapye en Palapye. Iewers langs die pad word daar weer ‘n piekniekmandjie uitgehaal vir middagete. Daarna is dit Francistown die tweede grootste stad in Botswana. Oornag buite die stad op ‘n gasteplaas. Mens verwag nie so ‘n lushof in die ongereptheid van Afrika nie. Ons behoort nie te laat daar te arriveer nie wat dan die geleentheid bied om bietjie te gaan stap of net te gaan kopskoonmaak langs ‘n dam of die rivier. Aandete is in die groot huis met pragtige houtmeubels. Iets besonders.

Dag 03. (11 Maart 2020)

Vir die wat vroegoggend bietjie wil stap is daar geleentheid voor ontbyt. Vir die wat daarvan hou om met ‘n wandelstaf / stok te stap neem gerus een saam, Na ontbyt word die sleepwa gelaai en vertrek ons na Plumtree die grens met Botswana en Zimbabwe. Grenskruisings is soms tydsaam. Vanjaar (2019) was dit een van die goustes wat ons in jare beleef het. Dit wil voorkom asof daar groot veranderinge besig is om te gebeur in Zimbabwe die baie padblokkades is ook iets van die verlede. Vandag behoort ons vroeg te arriveer in Bulawayo. Die vorige twee dae was dit lang afstande so daar is geleentheid vir bietjie rus, bene rek of net rustig verkeer. Aandete is by die restaurant wat al die toekenning ontvang het as die beste in hierdie land. Sedert ons eerste verblyf by hierdie lodge kon ons elke keer sien hoe verbeteringe aangebring word. Ons streef daarna om net die beste bekostigbaarste verblyf te gebruik.

Dag 04. (12 Maart 2020)

Na ontbyt is dit die gereelde gebruik van pille drink, tandeborsel en sleepwa laai voordat ons vertrek. Vandag ry ons vir kilometres op ‘n redelik goeie teerpad tussen bome, of noem dit deur die bos. Bosveld met mooi groot bome en van hulle is getooi met blomme. Ons drink ‘n teetjie by ‘n stilhouplek langs die pad. Vir die wat wil kan ‘n paar penne en skryfboekies saambring vir uitdeel aan nuuskierige kindertjies. Ek het van jaar (2019) vir ‘n groepie skoolkinders eers gevra om hul volkslied vir ons te sing voordat ons vir hulle elkeen ‘n pen en notaboekie gegee het. Die mense is arm maar geensins opdringerig met “give us” soos ons gewoond is nie. Ons reel vir middagete by mense wat grondgryppe oorleef het. Hier kan bietjie met hul gesels word hoe word daar besigheid gedoen in ‘n land wat nie meer ‘n eie geldstelsel het nie. Daarna is dit die laaste stukkie tot by die dorp met dieselfde naam as die valle. Die gedruis van die vallende water sus jou aan die slaap.

Dag 05. (13 Maart 2020)

Vanoggend begin ons met koffie of tee en beskuit. Daarna word die valle aan die Zimbabwe kant besoek. Na die besoek en lekker nat gereën van die watersprei kom ons terug vir “brunch” daarna besoek / bekyk ons die valle vanaf die Zambiese kant. Ons ry taxi na Zambie oor die brug waar daar jare gelede in treinwaens samesprekings gehou was deur staatshoofde vir ‘n beter toekoms…. Na die besoek aan die valle is dit ons eerste bootrit van die toer. Op die Zambezi aan die bokant van die valle. Geniet ‘n ietsie om die son te groet voordat ons terugkeer na ons tuiste waar ons aandete gaan geniet.

Dag 06. (14 Maart 2020)

Eers ontbyt dan oppak. Die mense van die helikoptermaatskappy kom ons haal vir ‘n vlug oor die valle. Die bootritte en vlug is alles ingesluit by die toerprys. Indien enige gas dit nie wil meemaak nie vra ek ‘n dokterssertifikaat dat u nie mag vlieg nie -  tong in die kies. Glo my mens het geen begrip van die valle as dit nie ook van bo uit die lig gesien is nie. Na my beskeie mening ‘n moet doen. Na die avontuur kan daar ‘n aandenking of twee gekoop word voordat daar vaarwel geroep word aan Zimbabwe. Die roete na Botswana gaan deur ‘n Nasionale Park so daar is die moontlikheid van ‘n olifant of twee wat die pad voor ons kruis. In Kasane die dorp wat ons tuiste vir die volgende twee nagte is gebeur dit dat olifante nog vryelik in die dorp rondloop of net die pad kruis om hul dors te gaan les van die water van die Choberivier. Hier gaan ons julle wys hoe ‘n boom as tronk in die goeie oudae gebruik was. Hier kom vier lande bymekaar – Botswana, Namibie. Zambie en Zimbabwe. Die nuwe brug oor die rivier behoort nognie klaar te wees nie. Vragmotors staan hier tot drie dae voordat hulle met ‘n pont die magtige Zambezi kan kruis met hul vrag uit Suid Afrika na die noorde. (Zambie, Malawi, Tanzanie, DRK om ‘n paar te noem)

Dag 07. (15 Maart 2019)

Vanoggend begin ons voor sonuit. Drink net eers gou koffie en eet beskuitjie voordat ons gaan wildkyk in die Chobe Nasionale Park. Dit is op ‘n oop wildkykvoertuig. (Bring ook iets warms saam vir hierdie uitstappie.) Na ongeveer drie ure kom ons terug vir ontbyt. Ons gee geleentheid om te gaan kyk hoe lyk Spar in Botswana. Rus ‘n bietjie want 14H30 word ons kom haal vir die bootrit op die Chobe. Ons reel vir ons eie boot. As die son gaan rus moet ons uit die park wees. Lang dag maar ek mis dit nie vir enige geld nie. Daarna gaan ons aansit vir aandete en gaan rus in lekker bed in goeie kamers.

Dag 08. (16 Maart 2020)

Dit is tyd om terug te draai huiswaarts gelukkig nie met ‘n spoed nie. Na ontbyt word daar gepak / gelaai en groet. Ry glad nie ver nie, eers nog deur deel van die park dan verby masiewe lande waar voedsel verbou word. Daarna deur bosveld – oilfante, kameelperde en soms wildehonde - speel verkeerskonstabel op die teerpad wat plekplek verbreed is vir ‘n vliegtuig om te kan land. Ons gaan verseker ook ‘n stop kry waar ons almal moet uitklim – skoene op ‘n nat kombers met bek en klou voorkomingmiddel – trap. Daarna is ons by ons tuiste tussen die olifante. Na middagete is u vry om nog hier te sit en beleef wat moeilik beskryf kan word of op u bed in u tent te gaan lê en van daar die groot voete van die veld te bewonder. Aandete is ook naby die watergat waar oom olifant jou reuse dier drink.

Dag 09. (17 Maart 2020)

Ons hoef gladnie te jaag nie kan rustig oppak ontbyt geniet en die groot voete vir oulaas bewonder. Na net so 60 km moet ons alweer halt roep. By Nata Lodge is ‘n swembad waar bietjie ontspan kan word. Vanmiddag besoek ons die panne waar die voëllewe besonders is. Wag vir die son om te groet met ietsie koud in die hand en met ‘n klein bietjie geluk is daar ‘n verbyvlug van flaminke. Daardie warm dingetjie van twee dae tevore sal handig te pas kom wanneer ons terug ry agterop die oop wildkykvoertuig na die Lodge waar ‘n heerlike aandete op ons wag.

Dag 10. (18 Maart 2020)

Na ontbyt en dit wat daarop wag is dit weer tyd vir sleepwa laai. Vandag weer ‘n langer afstand. Van Francistown ry ons weer op die pad waarlangs ons gery het met die oproete. Nie vir lank nie dan draai ons af by Palapye een van daardie name waar die klem so maklik op die laaste deel van die word val met die uitspreek in plaas van die eerste deel. Serowe is ons tuiste vir weer twee nagte. Hier is ook ‘n swembad vir die wat wil afkoel in ‘n mooi tuin, of net die tuin wil geniet.

Dag 11. (19 Maart 2020)

Na ontbyt verken ons die dorp en besoek die museum asook die begraafplaas met die grafte van die koninklikes. Na middagete maak ons reg vir ‘n besoek aan die Khama Rhino Sanctuary waar renosters in Botswana bewaar word. Doen mee aan ‘n wildrit om ook die kollosse van die veld van nader te bekyk. Daarna kom ons terug na Serowe. Na aandete is daar tyd vir ontspan saam kuier of vroeg inkruip vir die wat dalk al bietjie moeg is.

Dag 12. (20 Maart 2020)

Die toer staan einde se kant toe. Ons verlaat Serowe en volg ‘n agterpad via die Shosongheuwels, Lepehepe, Molepolole tot weer by Gaborone waar ons die laaste aand van die toer afsluit om ‘n braaivleisvuur.

Dag 13. (21 Maart 2020)

Na ontbyt moet ons pak en regmaak om te vertrek. Net voor die grens maak ons weer vol met Botswana se diesel wat ‘n paar Rand goedkoper is as die vanwaar dit kom van Suid Afrika. Kruis die grens en ry vir Hartswater waar ons by Olives / Peacans SA gaan middagete geniet. Nou kan almal koop van wat hulle al op dag een gesien het om huis toe te neem of dalk ‘n geskenkie vir hulle wat tuis moes bly. Die toer sluit dan ook hier af. Omdat dit die laaste stop sal wees waar almal nog saam sal wees.

Wat het ek nodig of moet ek weet om saam te gaan?

Die grootste gedeelte van hierdie toer is buite die grense van Suid Afrika daarom word ‘n geldige Paspoort benodig – moet nog ten minste ses maande oor hê voordat dit verval. Vir hierdie toer moet u paspoort dus nog geldig wees tot einde September 2020. ‘n Afskrif vir my rekords sal waardeer word. Gemaklike skoene – wat ook kan nat word - vir by die valle, iets warms vir vroeg oggend en aande wanneer ons op ‘n wildkykvoertuig of bootrit is. Swembroek vir die wat wil afkoel in die swembaddens.

Daar is ‘n moontlikheid van Malaria, spuitgoed om vir anofeles van jou weg te hou. Praat met u geneesheer oor wat vir u die beste sal wees. Ons kan nie vir u sê om nie voorsorg te tref nie, indien u nie voorsorg medikasie neem nie en kry moontlik malaria is dit net maklliker om te bepaal of u malaria het, as wanneer u wel medikasie geneem het. Voorsorgmedikasie is geneig om simptome te onderdruk.

Ons het nog nooit enige beperking op die gewig of grote van tasse geplaas nie. ‘n Kleinerige tas en drasak werk baie beter as een groot swaar tas. Wat goed werk is die helderkleurige kombersdrasakke met rits – wat Pep Stores verkoop - vir die vuilklere. Die meeste gastehuise voorsien handdoeke – soms ‘n kleintjie - en daardie “fancy” seepies - dit is dalk veiliger om jou eie te bring wat vir u geriefliker is.

Kamera met voldoende geheuekaart en laaier. Plastieksak – Jiffy tipe werk goed - vir jou kamera by die valle. En ‘n flitsie.

Wat kos hierdie toer en wat is in en uitgesluit?

Kom geniet hierdie toer saam met ons in ons luukse bus met gemaklike ruim sitplekke en goeie lugreëling. Goeie verblyf met drie etes per dag, alle toegangsgelde, aktiwieteite, bootritte en die vlug oor die valle is by die toerprys ingesluit. Ongelukkig is alkoholiese drank nie ingesluit nie. U mag wel u eie saamneem en dit geniet by die plekke waar ons nie in ‘n restaurant of eetplekke wat ‘n dranklisensie het eet nie. Ons het wel koeldrank en water op die bus wat u met graagte kan geniet.

Koste per persoon wat deel.

R29,960-00 per persoon wat deel.  ‘n Besprekings deposito van R3,000.00 om u plek te bespreek / verseker. Balans soos en wanneer u kan of u pas met die voorwaarde dat alles betaal is 30 dae voor die aanvang van die toer. Vir hierdie toer dus 7 Februarie 2020.

"Bostoe Bustoere waar gaste vriende word en vriende gaste word. Bostoe Bustoere bied waarde vir geld."

In any game, it’s the service that counts!

 

Vir verdere navrae kontak:-

Pieter Marais. Loopfoon: +27 (0) 82 550 7689. Kantoor / Huisfoon +27 (0) 53 664 0021

Bostoe Bus en Self Ry 4X4 Toere, (Toeriste Gids Registrasie Nommer GP 3843)