26 AUGUSTUS - 1 SEPTEMBER 2019

Ons het verledejaar (2018) die Hantamtoer so 'n bietjie verander. Twee redes. Calvinia spartel met 'n droogte vir die laaste twee plus jare. Die dorpsdam is leeg wat dit moeilik maak vir die toerismebedryf - met probleme waarvoor ons nie hier genoeg plek het om te noem nie. Die Calvinia vleisfees is net 'n week na ons Hantamtoer. Om feesgangers ook die geleentheid te gee om saam met ons te toer is die toer met 'n week uitgestel. 2018 was dan ook die eerste aangepaste toer ek het groot byval gevind. Dit lyk na 'n wenresep so as iets werk waarom verander.

Die roete is ook aangepas om weer iets nuuts met gaste te deel. 

Ons vertrek nie meer vanaf Kimberley op die eerste dag nie. Gaste van Kimberley en verder noord gaan haal ons die dag voor die begin van die toer op Kimberley en neem hulle na Vanderkloof.  Ons het woonstelle gebou op Vanderkloof toe ons hierheen verhuis het waar die gaste dan oornag. Hulle kan dan ook sien hoe lyk die Vanderkloofdam - die tweede grootste dam in Suid Afrika met die hooste wal 108 meter - Hierdie toer begin dus nou vroeg op Maandag 26 Augustus 2019 op Vanderkloof. Die roete gaan oor Orania, Hopetown na 'n plaas voor Prieska waat ons gaan ontbyt geniet. Hier gaan ons ook kyk hoe word Pekanneute uitgedop / gekraak. As jy mooi vra kan van die vars neute gekoop word. Van Prieska vertrek ons na Upington waar ons oornag. Hier proe ons produkte van die wingerdstok en gegeurde roomys. Na 'n vingerlek lekker ontbyt vertrek ons oor Keimoes, Kenhardt en Brandvlei - waar werkgeleenthede geskep is in 'n soutperpakkingsaanleg -  voor ons die laaste 150 km na Calvinia aandurf - ons standplaas vir die week. So u hoef nie elke dag in en uit te pak nie. (Dit vind baie byval by ons gaste en lyk na nog 'n wenresep te wees.) Soggens na ontbyt vertrek ons en kom eers weer later die middag terug, waar daar 'n lekker gekookte aandete (boerekos) vir ons wag. Ek is gebore op Calvinia en het baie in die omgewing rondgery. As die reën vanjaar nie weer gaan wegbly nie beloof dit om 'n goeie blommejaar te wees. 

Ons besoek die Tankwa karoo wat baie bekend is vir vygies, met hierdie toer is ons dalk so 'n bietjie vroeg daarvoor, maar die ander verskeidenheid van blomme maak weer daarvoor op. Ek hou nie daarvan om meer as een keer met dieselfde pad te ry nie, (indien moontlik) daarom gaan ons terug na Calvinia via Middelpos. Om by Middelpos te kom moet ons eers oor die Roggeveldberge kom. Die Gannagapas was 'n tweespoorpad, maar nie meer nie. Amper bo stop ons vir 'n uitsig oor die Tankwa... 'n gesig wat nog lank jou gaan bybly.

Skuinskoek is 'n lekkerny bekend aan die Hantam. Ons kry elke jaar 'n vars voorraad om saam met 'n koffietjie of dalk 'n teetjie te geniet.

Nieuwoudtville, die bolplant hoofstad van die wêreld, is nog 'n dagbesoek. Die natuurtuin net voor die dorp met sy wit en geelkatsterte is 'n moet om te sien. Matjiesfontein met sy uitgestrekte plate blomme sover die oog kan sien en 'n besoek aan die kerk met - sy vark in die verhaal - en heerlike pannekoek in die kerksaal maak dat 'n dag baie gou verby is.

Elke aand kom ons terug na die Rolbos Gastehuis waar daar 'n heerlike gekookte boerekos maaltyd vir ons wag. Die Hantam is ook bekend as skaapwêreld. Jaarliks word daar 'n vleisfees gehou die laaste naweek van Augustus - wat soos sy skape baie bekend is. Hier is jou geleentheid om vir 'n week lank blomme te kyk en fees te vier sonder om te bekommer waar gaan ek verblyf kry - ons het klaar dit gereel! Vrydagaand se aandete is doeksagte kliprib - 'n moet eet gereg. Dan praat ek nie van dit waarmee ons groot geword het nie. Vir die wat deur die natuurtuin wil stap is daar Saterdagoggend 'n geleentheid en word boonop met 'n medalje beloon. Pak u stapskoene en wandelstok in.  

Sondag kom ons terug en stop by 'n korbeelhuis voor Carnarvon vir tee - skuinskoek - eet by Kambropadstal buite Britstown waar vir u oulaas iets lekkers van die karoo nog in die karoo kan koop wat enig is net aan die karoo. Ken u kambrokonfyt? Hier is een van die min plekke waar dit nog te kry is. Daar is ook nog ander konfyte en ingemaakte produkte beskikbaar wat dateer uit ouma se dae..... kom kyk self.

Kom geniet hierdie week saam met ons in ons luukse bus met gemaklike ruim sitplekke en goeie lugreëling. Goeie verblyf en drie etes per dag en alle toegangsgelde is by die toerprys ingesluit.

Koste per persoon wat deel.

R9,000-00 perpersoon wat deel.  Besprekings deposito R1,000.00 om u plek te bespreek. Balans soos en wanneer u kan met die voorwaarde dat alles betaal is 30 dar voor aanvangs van die toer. Vir hierdie toer dus 26 Julie 2019.

"Bostoe Bustoere waar gaste vriende word en vriende gaste word. Bostoe Bustoere bied waarde vir geld."