Wie is ons .....en .... Nou waarom "bostoe"?
Ons ry al jare rond in die "bosse", en wil graag ons ervaringe deel met persone wat ook in die "bosse" rondry of dalk nog beplan om eendag "bostoe" te gaan. Ons rondry was met vakansies en as daar 'n geleentheid was. Omdat die meeste inligting hoofsaaklik in Engels beskikbaar is, is ons egter van mening dat daar tog 'n Afrikaanse mark is, en daarom Afrikaans.
By die werk was daar spottenderwys na my as "Mr Bush" verwys, omdat, as die geleentheid daar was, is ons bos toe. My ideaal om na aftrede my besig te hou met toere en as 'n gids op te tree het alreeds in 2004 'n werklikheid geword.
Ek het verskeie toere georganiseer en ook as gids opgetree soos hieronder uiteengesit:-
- Na die Richtersveld was ons eerste toer en verskeie daarna.
- Kaokoveld en Damaraland in Namibië. 'n Toer na Namibië is nie 'n toer indien daar nie in Etosha gedraai is nie.
- Boesmanland en Kaudom in die noord ooste van Namibië.
- Die suide van Namibië, Ai-Ais en Visrivier afgronde, kon nognie die moed bymekaar kry om te stap van Hobas tot Ai-Ais nie, het wel van Luderitz tot Walvisbaai die duine in 'n viertrek voertuig trotseer.
- Hawange en Victoria-valle in Zimbabwe.
- Barotseland en Kafue in die noord weste van Zambië.
- Chobe, Savuti, Moremi, Tsodilo Heuwels in die noorde en weste van Botswana.
- Die sandpaaie van die Kgalagadi Oorgrenspark asook diè verder noord tot by Buitepos aan die grens met Namibië.
- Die Khutse, Makgadigadi Panne, Khubu eiland en Khama Rhino Sanctuary in sentraal Botswana.
- Ons het ook vir 5 jaar in Swaziland gewoon en het ook diè land van noord na suid, oos na wes, verken wanneer die geleentheid daar was.
- In 2008 was ons vir drie maande op toer in Afrika, Botswana, Zambië, Malawi, Tanzanië, Rwanda, Uganda, Kenia en Mosambiek.
- In ons eie land het die Tankwa Karoo onder ons vel ingekruip.
- Die Sederberge, het al 'n paar keer tot by die Wolfbergboog geklim, die Maltesekruis bekyk en in die Stadsaalgrotte besoek.
- Mapumgubwe in Limpopo en die Tuliblok oor die grens in Botswana.
- Die Kruger, seker die mees bekendste wildtuin saam met Madiba in Suid Afrika soos ons ondervind het by die meeste nie Suid Afrikaners wat ons met ons omswerwinge raakgeloop het.
Wie is ons en wat doen ons?
Ek is Pieter Marais getroud met Susan, ons woon tans op Kimberley in die Noord Kaap. Afgetree en 'n geregistreede gids by Departement van Toerisme in Suid Afrika. My gids nommer is GP 3843.
Baie mense vra ons uit oor ons omswerwinge en kort voor lank besef jy dat daar 'n hunkering bestaan om ook die "vreemde" te gaan verken, maar of die regte voertuig ontbreek of is bang vir die onbekende.
Ons missie is om met ander te deel waar ons al was en ook so nog nader aan die skepping te leef.
Ons doelwitte is eenvoudig, om 'n verskil te maak deur bekostigbare selfry 4 x 4 - en saamry luukse bus-toere aan te bied.