Oos-Transvaal / Kruger Wildtuin / Swaziland-toer 12- 23 Mei 2019
Die wil voorkom asof die nuwe toevoeging van ‘n Oos Transvaal / Kruger Wildtuin / Swaziland toer verlede jaar redelik byval gevind het. Ons het dan ook hierdie toer so ‘n klein bietjie aangepas sodat meer tyd in Swaziland spandeer kan word. Eswatini - is die nuwe naam vir Swaziland - is aan ons goed bekend omdat ons vir vyf jaar ook daar woonagtig was. Daarom hoef ons nie ‘n “na-aaptoer” te doen soos die meeste toeroperateurs doen en net die bekende Ezilweni vallei tussen Mbabane en Manzini te besoek nie. Dit is ‘n lang toer daarom onderbreek ons die terugtog met ‘n besoek aan die Golden Gate in die Oos Vrystaat. Hier volg dan in breë trekke inligting oor die 2019 toer.
Dag 01. (Sondag 12 Mei 2019) Ons vertrek vanaf Vanderkloof – die tuiste van Suid Afrika se tweede grootste dam met die hoogste damwal – 108 meter en ‘n boogspan van 756 meter – die roete is oor Bloemfontein, Winburg, Senekal, Bethlehem, Vrede, Standerton, Ermelo tot by Chrissiesmeer waar ons oornag.
Dag 02. (Maandag 13 Mei 2019) Omdat ons gister ver gery het, het ons vandag ‘n heelwat korter afstand. Na ontbyt by die Outside Inn / Innside Out gastehuis op Chrissiesmeer groet ons ons vriendelike gasvrou Judy en volg die roete oor Lochiel, Badplaas, Nelspruit, Witrivier tot op Hazyview. Sanbonani Hotel buite Hazyview is ons tuiste vir die volgende vier nagte. Van hier gaan ons daaglikse besoeke onderneem na onderandere Graskop, “God’s Window” die “Potholes" en natuurlik die Kruger Wildtuin.
Dag 03 (Dinsdag 14 Mei 2019) Om die groot voete van die Kruger en al die ander diere te geniet moet ons vroeg begin. So ons staan vroeg op en wag ons beurt by die hek om in te gaan sodra die hekke oopmaak. Ek gaan altyd van die veronderstelling uit dat ons sal sien wat ons moet sien. Kom ons geniet die skepping van die Vader.
Dag 04 (Woensdag 15 Mei 2019) Vandag verken ons die omgewing! Daar is “God’s Window” die “Pot holes” en die res hou ons as ‘n verrassing. Daar is baie om te sien en geniet soos dalk pannekoek.
Dag 05 (Donderdag 16 Mei 2019) Weer is dit vroeg opstaan want ons gaan weer Kruger toe – nou praat ons soos die buitelanders met ‘n aksent wat nie van Wildtuin praat nie net van Kruger. Nog ‘n dag in die natuur is altyd ‘n bekoring en voorreg. Die tyd het gevlieg en na nog 'n dag in die Kruger dit is regmaak vir oppak by Sanbonani vir more se aanbeweeg.
Dag 06 (Vrydag 17 Mei 2019) Hier is die eerste verandering van ons vorige toer. In plaas van terug te ry tot Nelspruit vat ons kortpad deur die Kruger. Of dit gouer sal gaan sal die tyd moet leer - wie weet vooruit - wat gaan moeder natuur vir ons vandag laat sien. Ons verlaat die "Laeveld" en steek die grens oor na Eswatini. Eers net gou die grensding doen. So onthou jou paspoort. Die eerste dorp is Pigg’s Peak. Die bekende Ngwenja Glas word besoek. Hier kan ons kyk hoe word herwinde glas gesmelt en verskeie voorwerpe - soos beeldjies van diere - gemaak. Ook hier word sjokolade gemaak en verkoop. Oppad na ons tuiste vir twee nagte ry on verby die hoofstad Mbabane. Van Mbabane neem ons ‘n agterpad na Mhlambanyatsi waar ons by Foresters Arms tuisgaan wat ook ons basis is vir die volgende twee nagte sal wees. Hierdie mense is vriendelik en die spyskaart... wag tot ons daar is. Daarom moes ek die tweede aanpassing maak hier in die “bos” moet mens meer tyd spandeer.
Dag 07 (Saterdag 18 Mei 2019) Na ontbyt gaan verken ons die Ezilweni vallei, Besoek die bekende Swazi Candles, ‘n informele mark en nog ‘n stop hier en daar.Ons gaan terug na Foresters Arms, kuier lekker en gaan sit aan vir nog ‘n voortreflike bederf.
Dag 08 (Sondag 19 Mei 2019) Vandag beweeg ons nog verder suid - Nhlangano - Phumula Farm Guest House – die naam is engels maar die eienaars is Afrikaans. So hier kan dit net lekker wees. Daarom die derde verandering op ons vorige toer ook nog ‘n ekstra nag. Hier kan ons lekker gaan stap so pak in die stapskoene en wandelstok.
Dag 09 (Maandag 20 Mei 2019) Nog ‘n dag by die Robertse en hul dogter Antonet Reed wat die gastehuis bestuur. Ons maak ‘n draai in die dorpie Nhlangano en geniet ‘n luilekker rusdag want more is dit tyd vir huiswaarts keer. Gelukkig nie met ‘n spoed nie.
Dag 10 (Dinsdag 21 Mei 2019) Na ontbyt moet ons groet en vertrek. Ons tuiste vir die volgende twee nagte is by die Golden Gate Hotel in die Oos Vrystaat.
Dag 11 (Woendag 22 Mei 2019) Golden Gate is geleë in die skilderagtige Oos Vrystaat. Naby is die dorpie Clarens en natuurlik die Golden Gate Nasionale Park wat besoek kan word.
Dag 12 (Donderdag 23 Mei 2019) Na ontbyt is dit pak en laai nie altyd lekker nie maar ons moet huis toe. Die roete is oor Ficksburg, Ladybrand en Bloemfontein.
Belangrike inligting.
U benodig ‘n geldige paspoort wat nog ten minste ses maande oor het voordat dit verval.
Wat is alles ingesluit.
Alle verblyf, toegangsgelde en drie etes per dag. U moet net sorg vir iets om te eet die eerste dag vir ontbyt. Om tyd te spaar gaan ons net stop vir middagete. ‘n Piekniekmandjie iewers langs die pad. Daar is water en koeldrak op die bus vir gebruik op die bus. Indien u ‘n ietsie wil gebruik met etes is u welkom maar dit is ongelukkig nie ingsluit nie. U kan u eie drinkgoetjies saamneem en is welkom om dit te geniet by plekke waar daar nie ‘n kroeg is nie. Waar daar wel ‘n kroeg is moet u asseblief van daardie fasiliteit gebruik maak.
Wat is die koste van hierdie unieke / besonderse toer?
Die alles insluitende toerprys beloop R19,500-00 per persoon wat deel en is as volg betaalbaar. R500-00 om u bespreking te bevestig. R9,500-00 @ 11 Maart 2019 en die saldo van R9,500-00 op 11 April 2019
Nog ‘n Bostoetoer waar gaste vriende word.