elephant

Weskus Bustoer.

Die Weskus word geassosieer met veldblomme in die lente, koue strande, visgeregte en gasvry mense. Ons Vader sluimer of slaap nooit nie, Hy weet wanneer om die sluise van die hemel op die regte tyd te open om die aarde te benat en in Sy groot almag die blomme te laat groei vir ons om Sy skeppingswonder te aanskou en te geniet. Ons weskustoer is 'n toer om die weskus te ervaar / beleef / en saam met sy mense te kuier. Dan is daar ook 'n bonus om die blommeprag van die gebied enig daaraan te beskou / aanskou / en geniet. Ons jaag nie deur 'n gebied net om te sê ons was daar nie, ons probeer om by soveel moontlike plekke aan te doen en te deel met ons gaste wat ons vriende word.

Wanneer.

2019 se datums:-   14  -  25  SEPTEMBER

Reisplan.

Dag 1.

 

Ons vertrek vroeg van Vanderkloof. Gaste van Kimberley en noord daarvan gaan haal ons die vorige dag op Kimberley. Ons het woonstelle gebou op Vanderkloof toe ons hierheen verhuis het. Alle toere in 'n suidelike rigting van Kimberley begin dus in die toekoms op Vanderkloof en eindig ook daar. Gaste word die dag voor die toer begin op Kimberley gaan haal en weer na die toer daarheen teruggeneen. Die eerste dag se roete gaan oor Orania, Hopetown en Strydenburg tot by die Kambropadstal net voor Britstown waar 'n heerlike ontbyt by hierdie padstal geniet word. Daar is 6 verskillende kombinasies om van te kies, en gou kom jy agter waarom die Wegtydskrif hierdie padstal aangewys het as die naaswenner in hul soeke na die beste padstal in die land. Van hier gaan ons na Carnarvon. Besoek 'n korbeelhuisie, 'n boustyl van die 1800's wat uniek is aan hierdie omgewing. Daarna vat ons weer pad na Calvinia. Ons weet dit is nie lekker om die oggend alles in te pak om net weer die aand uit te pak nie. Daarom probeer ons waar moontlik so twee nagte te bly.

Dag 2.

Na ontbyt vat ons die pad na die Tankwa Karoo. Die vygies en vetplante behoort ons 'n totaal ander gesig te wys van die Karoo wat vir die meeste mense as 'n droe uitgestrekte verlate wêreld versinnebeeld. Iewers in die veld tussen die blomme geniet ons die kospakkies wat ons gastevrou van die Rolbos Gastehuis op Calvinia vir ons voorberei is. Ek hou nie daarvan om meer as een maal, indien moontlik, dieselfde pad te ry nie. Daarom gaan ons terug na Calvinia via Middelpos, 'n dorpie in privaat besit. Om by Middelpos te kom moet ons eers teen die Roggeveldberge uit. Die Gannagapas was vir baie jare net 'n smal tweespoorpad, nie nou meer nie, maar nog steeds 'n steil smal grondpad. Amper bo stop ons sodat u kan terugkyk oor die Tankwa, 'n gesig wat u vir lank sal onthou. Terug op Calvinia kan u bietjie ontspan en as u so voel met die mense van die kontrei gesels. Aandete (boerekos) is by die gastehuis en u oornag weer in dieselfde kamer waar u die vorige aand geslaap het. Hoe salig is dit om nie elke dag te hoef oppak nie!.

Dag 3.

Na ontbyt verlaat ons Calvinia en vertrek ons na die bolplanthoofstad van die wêreld, Nieuwoudtville. Hier gaan kyk ons na 'n waterval en besoek Matjiesfontein wat bekend is vir pragtige blomme. Daarna verlaat ons die Noord-kaap en gaan die Wes-kaap binne met Van Rhynspas, of soos die mense van die gebied praat Bokveldsberg, 'n bergpas wat ons net sak met 'n uitsig oor die Knersvlakte. Ons oornag op die dorp in netjiese skoon verblyf. Aandete is by 'n gasteplaas hoog in die berge naby Vanrhynsdorp. Om daar te kom ry ons deur rooibosteelande. By Gifberg kan ook 'n draai geloop word na 'n waterval, ook die verskillende sandsteen rotse en plantegroei bewonder. Aandete in 'n "berg restaurant" of op die "Dek wat oor 'n dam hang". Prentjie mooi en lekker gekookte ete! Die Kok is 'n jong boertjie, wat die dames gaande het oor sy kookvernuf. Die nagereg is baie spesiaal en vingerlek lekker!

Dag 4.

Nadat ons lekker geslaap en die maag vol is dit Weskus. 'n Besige dag van stop hier en daar. Besoek 'n digter se graf in die Pakhuisberge. Clanwilliam is bekend vir rooibostee. Met ons besoek aan Rooibos Beperk hoor jy meer van die besonderse eg Suid Afrikaanse produk en kan ook daarvan koop. Middagete is by Khoi San Kitchen langs die Brandewyn spruit. Na 'n lang dag kom ons by ons gastehuis op Lambertsbaai wat ons tuiste vir nog twee nagte, in dieselfde gastehuis, gaan wees.

Dag 5.

Na ontbyt en die longe vol seelug verken ons die omgewing. Lambertsbaai en omgewing bied baie om te verken en te geniet. Ons verklap niks nie. Kom geniet die Weskus.

Dag 6.

Van Lambertsbaai vat ons pad, agterpaaie, deur die sandveld tot ons by die dorpie Veldrif kom. Die Bergrivier mond hier uit in die see. Die dames sal hou van 'n snuffelwinkel op die kaai. Ons eet iets in 'n kunsgallery op die vissersdorpie. Dan is daar Paternoster, Vredenburg, en omgewing voor ons by ons standplaas vir die volgende twee nagte op Langebaan kom.

Dag 7.

Ons verken die omgewing. Daar is die Langebaanmeer en ook nog die Weskus Nasionale Park. Dit is ook nog blommetyd aan die weskus so daar is baie vir die oog en baie om te geniet. Wanneer jy die weskus besoek moet daar vis geeet word, waarvoor wag ons die plek is reg en tyd is ook reg.

Dag 8.

Darling se jaarlikse veldblommeskou is oor hierdie naweek, 2018 is dit die 101 ste. (Ek kan nie wag om die tema van hierdie jaar te sien, om hierdie besonderse mylpaal van die vereniging se bestaan te sien nie.) Daar word elke jaar 'n besonderse uitstalling gehou van die veldblomme van die distrik, van die blomme wat uitgestal word kom net daar voor. Ons besoek ook die Duckitt Nurseries die grootste orgidieë kwekery in Suid Afrika of dalk in die suidelike halfrond, ek hoop ek kry u weer almal in die bus na hierdie skouspel. (U kan vir u orgidieë koop om tuis te kom spog.) Na 'n dag tussen die blommeprag soos net ons Skepper kon maak moet ons begin met die terugtog. Noord, wees gerus die ongeveer 1000 kilometer is nie 'n gejaag nie. Ons gaan kuier op Wellington. Kuier saam met die mense van die kontrei. Van die vorige jare het dit gesneeu en die berge was wit bedek met 'n sneeu kombers. So pak ook iets warms in om die koue te trotseer.

Dag 9.

Vandag reis ons van Wellington oor die Bainskloofpas na hoogste dorp in Suid Afrika. Eet eers middag ete op Matjiesfontein voordat die laaste 100 kilometer na Sutherland afgele word. Sutherland is bekend vir sy skoon wolklose aande en gewild vir sterre kyk. Jurgens Wagener is die man wat ons gaan vertel van die sterre wat saans oor ons skyn en ook vir ons wys watter een is watter een. Jurgens se Sterland opelug observatorium is net buite die dorp, om die hemelruim goed te kan sien het die obsevatorium nie 'n dak oor nie. 'n Lekker warm lente aand se temperatuur is in die omgewing van - minus 1, 2, 3! - Pak dus vir u iets warm in om die ervaring terdeë te kan geniet. Ons oornag dan ook in Jurg en Rita van Kambrokind se gastehuise.

Dag 10.

Maak eers na ontbyt 'n draai by SALT, ons sal verduidelik, nie die engels vir sout nie asook die Louw huis. Sutherland het baie om te bied en te besoek en omdat ons nie van 'n gejaag hou nie bly ons twee nagte hier. Sutherland staan ook bekend as die koudste dorp in Suid Afrika. Die warm atmosfeer en vriendelike karoomense laat jou gou vergeet van die dorp se "ere titel" as koudste dorp. Die gastehuise het almal verwamers en 'n elektriese kombers op die beddens.   

Dag 11.

Ons probeer met al ons toere om altyd goeie netjiese gastehuis verblyf te bekom teen die beste bekostigbare prys. Soms is verblyf vier ster en soms drie ster - hoofsaak is omdat ons gereelde besoekers is - daarom kry ons meer in persoonlike aandag / diens as wat die stergradeering aanbeveel. So wees gerus ons sal u nooit in substandaard verblyf laat bly nie.

Na 'n heerlike karoo ontbyt moet Sutherland en sy mense groet. Ons moet ongelukkig weer teug na die N1. Dan noordwaarts Laingsburg tot by die Karoo Nasionale Park net voor Beaufort West. Ons kan 'n draai ry om te sien watter wild naby genoeg aan die pad is om 'n foto te neem of net te bewonder. Dit is dan ook die laaste aand en daarom moet daar gebraai word.

Dag 12.

Vandag is die laaste skof terug na Vanderkloof. (Gaste van Kimberley en verder noord word weer na Kimberley terug geneem)  Voor dit kan gebeur moet ons eers gaan ontbyt geniet by die Karoo Park se restaurant. In Beaufort West gaan wys ek u eers 'n plek waar die horlosie vir baie jare teruggedraai word. Ons stop weer by Kambropadstal vir middagete en om u die geleentheid te gee om nog iets eie aan die Karoo nog in die Karoo te koop.

Wat is ingesluit en wat moet ek weet ?

 Alle verblyf in gastehuise, drie etes per dag, toegang waar van toepassing. Vervoer in ons luukse bus met gerieflike / gemaklike ruim sitplekke / met goeie lugversorger. Koue gebottelde water om op die bus te geniet. 'n Toesluit / stofdigte baggasie sleepwa. Ons probeer om vir etes by verskeie eetplekke wat spesialiseer in kontrei kos te reël.

Die bus is 'n nie rook area so ook die meeste gasthuisverblyf. (Ons sal gereeld stop indien daar iemand is wat rook en versoek u dus om ook by gastehuise net te rook waar dit toelaatbaar is.)

Die koste van die toer is bereken per persoon wat deel grondslag. Indien u nie wil deel nie is u welkom om ons dienooreenkomstig te nader vir 'n kwotasie.

Wat is uigesluit?

Alkoholiese drank indien u iets saam met u ete wil geniet.

Koste.

Per persoon wat deel:R14,500-00. 

Ons verlang net 'n deposito van R1,500-00 om u plek te bespreek / verseker. Die res kan u betaal soos en wanneer u kan op voorwaarde dat die totale toerprys betaal is 30 dae voor die vertrek van die toer. Vir hierdie toer dus voor of op 14 Augustus 2019

"Bostoe Bustoere is waar gaste vriende word en vriende gaste word. Bostoe Bustoere waarde vir geld bied"