Kom saam...   bos toe!

TOERE - Klik hier vir meer inligting...

Die Richtersveld, Deel I

       Hoofblad

 Waarom Bostoe?

Reise en Roetes

Toerusting

Toere

 

 

Terugvoer

Kontak Ons

Kaokoveld - Khaudom - Namibië - Richtersveld  

Die roete:  Waar om te bly, wat om te sien, wat om saam terug te bring.

Ons het in 2001 die bergwoestynpark besoek. Omdat ons vanaf Kimberley gery het, het ons ook die Namakwa 4x4 (pakket 1) ingesluit.  Die roete begin so 25 km vanaf Pofadder op die teerpad na Aggeneys, waar ons regs afdraai na Pella. Tot vandag weet ek nie of ons te dom was om die kaart te verstaan of die inligting wat verskaf was nie op datum was nie. Kom ons sê maar dit is 'n ietsie van beide. Ons maak toe vir ons 'n nuwe Pelladrift en kamp baie lekker in 'n droë loop waar dit in die Gariep vloei. Dit is belangrik om die weer dop te hou voordat daar in 'n droërivierloop gekamp word. Hierdie deel van die wêreld het die geneigdheid om as dit reën, baie te reën. Water kom aangerol soos 'n muur, wat afhangend van die breedte van die rivierloop tot 'n meter of hoër kan wees. So gou soos dit gekom het is dit weer verby nodeloos om te sê wat voorkom word net eenvoudig saamgeneem.

 

Die kenmerkende kokerboom van die area
 

Die volgende oggend tap ons water by Christina Jannetjies van Posbus 187, Pella, 8891 se "Kultuur Koffiekroeg." Sy deel ons dan ook mee dat die kamp by Pelladrift nie meer daar is nie. Nadat ons die houers vol water gemaak het verlaat ons Pella volgens die roete beskrywing wat ons van Namakwaland Toerisme, saam met ons permit, gekry het. Die roete wissel van geskraapte pad, tweespoorpad van die binneland tot teen die rivier met hekke soos ons deur afgekampte gebiede gery het. Die afwisseling maak dit interessant en die natuurskoon asemrowend. Aanvanklik was daar nie probleme nie totdat ons op 'n slegte geskraaptepad kom en die banddruk aangepas het, het ons lekker gery. Die eerste dag was heel voorspoedig en ons kamp by Groot Melkboom

  "Half mense" o die Namakwa 4 x 4 Roete

Ons was die eerste besoekers vir die dag wat by Groot Melkboom kom en gedink dat ons die enigste was,  maak kamp by hierdie groot boom. Later die middag arriveer daar nog besoekers in groepe wat die gebruikers van die roete tot so +/- 15 voertuie bring. Daar is baie plek en ons weet nie van mekaar nie. Nadat ons lekker gekamp het is ons die volgende oggend weg op die laaste deel. Ons het die roete te vinnig gedoen, moes ons meer tyd gegun het. Daar is nog baie wat ons kon besoek of geniet het, maar vanweë onkunde met ons eerste 4x4 roete het ons dit gemis. So laat meer tyd toe, 4 nagte word aanbeveel. 

Ons kamp by die Groot Melkboom    

Pakket 1 einding na 260 km aan die N7 na Vioolsdrift, ons ry die laaste 20 km weer op teer tot by Vioolsdrift waar ons links draai na Peace of Paradise wat 'n verdere 23 km vanaf die afdraai van die N7 langs die Gariep (Oranje) geleë is. Hierdie is (was) 'n ware paradys wat Peter en Sharon ontwikkel het. Het gehoor dat hierdie paradys op 1 Januarie 2004 afgebrand het en nie weer herbou gaan word nie. Aquacade Kamp net 10 km vanaf die afdraai, is ook 'n kampplek wat in sy volle glorie ontwikkel is en bied dieselfde geriewe asook selfsog hout huisies met lugversorging en eie badkamer.  Hierdie kampplek is nou ook verbeter om nog meer gerief vir toeriste, veral die 4x4 reisiger, te bied.  Die riet afgekampte kampeerplekke het n kragpunt, ligte, braai area en groot rietlapa met n wasbak, tafel en bankies. Vir meer besonderhede besoek ook www.aquacade.co.za of kontak Louwrika 027 761 8777


Die barheid van die RIchtersveld

So 'n bietjie groen

 

 Ons het baie lekker gekamp in die afgekampte riet staanplekke wat ruim genoeg was om 'n paar voertuie te akkommodeer, elk met sy eie geriewe.

Van Peace of Paradise is ons die volgende oggend weer terug na die N7 en tot by Steinkopf oor Port Nolloth en Alexanderbaai tot by die ingang van die park by Sendelingsdrift. Die grondpad vanaf Alexanderbaai, waar ons weer brandstof hervul het, is 'n pad wat redelik myn verkeer dra, dus wissel dit van goed tot erge sinkplaat. Vriendelike personeel ontvang ons by die kantoor te Sendelingsdrift. Ons eerste nag in die bergwoestynpark is by Pooitjiespram op die walle van die Gariep.  In hierdie park is daar permanete inwoners wat boer met veral bokke wat alles vreet.  Gedurende die nag kom daar 'n wind op wat weer alles wat nie vas is nie wegwaai. Ons verlaat Pooitjiespram met sand wat oral ingewaai het na De Hoop. Maak ontbyt tussen die koppe waar ons 'n windstilte beleef. Na ontbyt is ons verder met die kronkelende tweespoor totdat ons later die middag met die droë loop van die Kookrivier by De Hoop arriveer. Hier word ons begroet met groen gras op die walle van die Gariep.

Padlangs teen die Oranje Weerkaatsing in die Oranje

Met ons aankoms het die vriendelike personeel ons meegedeel dat die park stil is en dat ons kan kamp waar en wanneer ons wil, boonop was dit ook winter, nie reënseisoen vir hierdie gebied nie -  daarom die besluit dat hierdie groen gras ons kamp vir twee dae gaan wees na die wind en sand van Pooitjiespram. Die rusplek betower almal en ons geniet die natuur en die Gariep wat baie rustig vloei. Later kom daar 'n paar roeiers in opblaasbote verby wat 'n ander manier is om die natuurskoon te bewonder.

Van De Hoop is ons verder totdat ons ons laaste nag hoog in die berge by De Koei afsluit, voordat ons die volgende dag die park verlaat by die Helskloof hek. Hier by De Koei het ons verseker een van ons koudste nagte in die natuur beleef.  Ons sal terugkom sodra die pont by Sendelingsdrift weer heropen is om die Ais-Ais Oorgrenspark met Namibië te deel.

Van die Helskloof hek is ons weer terug na Peace of Paradise oor Kuboes, Lekkersing en die Helskloofpas waar ons weer 'n baie aangename aand saam met vriende geniet het.

 
  Kaokoveld - Khaudom - Namibië - Richtersveld
 

Terug na Roetes