Kom saam... bos toe!
TOERE - Klik hier vir meer inligting...
Waarom Bostoe?
Reise en Roetes
Toerusting
Toere
Terugvoer
Kontak Ons
Nou waarom “bostoe”?
Ons ry al jare rond in die “bosse”, en wil graag ons ervaringe deel met persone wat ook in die “bosse” rondry of dalk nog beplan om eendag ook “bostoe” te gaan. Die inligting wat op hierdie webwerf verskyn het ons so met die tyd versamel deur ons eie wedervaringe.
Die plekke waarvan ons hier skryf is nie plekke wat vir elkeen beskore is nie. Ons rondry was met vakansies en as daar ‘n geleentheid was. Omdat die meeste inligting hoofsaaklik in Engels beskikbaar is, is ons van mening dat daar tog ‘n Afrikaanse mark is, daarom Afrikaans. Met ons rondry het ons verskeie “bosvriende” gemaak en met baie ander gesels. Soos dit maar met dié gesprekke gaan word daar oor gebiede en toerusting gepraat. Ons gaan probeer om die gebiede waar ons was met u te deel en kyk of ons nie die Dollar tekens vir toerusting na bekostigbare Rand te verander nie. ‘n Wegbreek bos toe kan bekostigbaar wees.
My ideaal om na aftrede my besig te hou met toere en as ‘n gids op te tree, het ‘n werklikheid geword want die groot dag het einde Oktober 2004 aangebreek. By die werk was daar spottenderwys na my as “Mr Bush” verwys omdat, as die geleentheid daar was, is ons bos toe. Daarom kan ek met trots en alle eerlikheid sê dat alle inligting wat hier gedeel word persoonlike ervarings is, en dat alle plekke wat genoem word wel besoek was. Afgesien van die roetes wat ons al gery het en plekke wat ons besoek het is daar ook ‘n afdeling oor toerusting wat moontlik die wegbreek bos toe ‘n genotvolle ervaring kan maak. Daar kom bykans elke dag iets nuuts op die mark, maar ongelukkig is alles nie verbeteringe nie, daarom gaan ons probeer om jou te help om te belê in die toerusting wat werk. Ons kan ook vir jou help met die beplanning van ‘n wegbreek bostoe. Voltooi die beplanningsvorm op die webwerf, dan doen ons die res. Lees ook die terugvoer van gaste wat saam met ons “bostoe” was.
Ons liefde vir Namibië het my gedryf om dié mooi land die afgelope jare te deurkruis, en daarom gaan ons verseker in die toekoms weer tkuier tussen die woestyn olifante en in die klip woestyn van Damaraland. Wat is ‘n besoek aan Namibië sonder ‘n besoek aan Etosha waar troppe diere jou vergas al langs die wit toeristepaaie. Die Noord Kaap wat weer sy mooiheid in die barheid van die natuur versteek word ook ontplooi. ‘n Vakansie in die bos is nie ‘n vakansie as die ou Kalahari nie daarvan deel is nie. Hierdie wildernis gebied met die Kgalagadi Oorgrenspark as sleutel kan jou verskeie maal laat terugkom en elke keer is daar weer iets nuuts. Botswana met sy tweespoor sand paaie, verborge skatte en vriendelike mense het ook ongemerk onder ons vel ingekruip. Hier is die sterre baie meer duideliker as in die konkreetwoestyn van ons stede, en wie weet dalk kom kuier ‘n paar leeus ook nog vannaand om die kampvuur. Ons besoek Zambië Junie / Julie 2006 wanneer ons gaan konsentreer op die suid westelike deel van die land, Barotseland, asook die Noord en Suid Kafue.
So dit is “Bostoe” indien julle wil deel in ons entoesiasme voltooi die antwoord kolom hier onder en ons sal sorg dat daar gereeld ‘n vonkpos gestuur word wanneer daar enige byvoegings gemaak word.
E-Pos Adres:
Om enige inligting van hierdie web te druk word aanbeveel dat u die drukker stellings na landskap verander om die beste resultaat te kry.
Geniet dit saam met ons.
Bosgroete, Pieter en Susan Marais