Kom saam...   bos toe!

TOERE - Klik hier vir meer inligting...

Kaokoveld, Deel II

       Hoofblad

 Waarom Bostoe?

Reise en Roetes

Toerusting

Toere

 

 

Terugvoer

Kontak Ons

Kaokoveld - Khaudom - Namibië - Richtersveld

 


 

Van Epupa af terug tot by Okongwati...

Van hier is daar twee opsies, een al die pad terug tot by Opuwo waar brandstof beskikbaar is of opsie twee, die korter roete van Okongwati verby die Otjijandjasemo warmbron oor Etengwa, Okauwa en verby die Oviverodam tot by Otjitanda. Die laaste 6 km van die Oviverodam tot by Otjitanda is ru maar lekker, die nadeel van die korter roete is dat voorsiening gemaak moet word vir brandstof vir +/- 1000 km. Dit is tot Sesfontein, waar brandstof nie altyd gewaarborg is nie, of 1200 tot by Palmwag waar daar verseker brandstof sal wees. My voorstel is spandeer nog so vir oulaas tyd by Epupa en kom terug tot by Okongwati, die korter roete draai voor "Candali Store No 3" weg in 'n suidelike rigting.

By die warmbron kom die vee suip, daar is nie "baaigeriewe" nie so die kostuums kan maar dieper gebêre word. Probeer vorder tot by die Oviverodam of 'n bietjie verder tot waar die "Truck Africa Overlander" gebreek het in 'n omurumba, wees egter versigtig in die reënseisoen. Die volgende oggend is dit net oor die koppie na Otjitanda en verby die handwaterpomp by Otjihende en dan oor Van Zylspas. Dit gee jou dan ook so 'n voorsprong op ander toeriste wat van Opuwo af kom. (wat gaan brandstof kry het.)

Die pad tussen Okangwati en Otjitanda -
die pad is maar ru vanaf die Oviwerodam.

 

Van Zylspas moet verkieslik van oos na wes gery word. (Die rigting wat hier beskryf word.) Die roete is smal met min verbykom plek, maak dus seker of daar nie aankomende verkeer is nie, dit is nie so maklik om nog op hierdie ruwe terrein agteruit te bestuur nie.  Die eerste 16 km tot by die uitkykpunt wat bekend is as "Van Zylsbo" is nie so moeilik nie, daar is egter die ruwe plekke wat tyd neem. Hulp / navigasie aan medebestuurders oor die ruwe plekke kan ernstige skade voorkom en 'n aangename herinnerige verseker veral as die "kameraman" met 'n videokamera dit kon vasgelê het. Die laaste 3 km vanaf die uitkykpunt is skerp afdraend wat met baie omsigtigheid aangepak moet word, verkeerde besluite en te vinnig kan fataal wees.  Dit is van kardinale belang dat die groepleier bewus is van elke bestuurder se vaardighede wanneer 'n toer beplan word, indien nodig moet onderrig betyds afgehandel word.

   

Van Zylspas, hier moet jy af!

Tel  vir jou 'n platklip iewers op die roete op, en lê dit aan die voet van die pas by die hoop waar ander hul herinneringe gelaat het. Vir die wat eerder 'n klip wil koop is daar himba entrepreneurs wat in hierdie behoefte kan voorsien. Van hier word die Marienfluss betree, 'n vloedvlakte tussen die Otjihipa en Hartmann berge, hier is ook twee opsies, gaan af tot by Otjinungwa en gaan groet die Kunene en geniet die weiwende grasvlakte en die veel besproke raaiselagtige  feetjiesirkels. Die alternatief is om vir 'n entjie dit te geniet en dan in die rigting van Rooidrom te draai. Ons het eers gaan groet en lekker gekamp op die walle van die Kunene waar kampplek met stort en toiletgeriewe beskikbaar is.  'n Minimale bedrag word gevra vir hierdie gerief.

Weiwende grasvlaktes

 

Van Rooidrom, net 'n 200 liter drom vol klippe en koelgate wat rooi geverf is, is daar weer opsie roetes, een in 'n westelike rigting wat ook toegang bied aan die Hartmannsvallei en dan suidwaarts tot by Orupembe. Die alternatief is oor Rooidrompas wat ons gevolg het ook tot Orupembe. Hier was altyd net 'n windpomp en dam.
 

Intussen het 'n polisiestasie met polisiebeamptes ook hul wakende oog daar kom hou. Die grootste trop springbokke (500+) wat ek nog bymekaar gesien het was daar. Die pad tussen Orupembe en Purros word seker nooit geskraap nie en lok jou om eerder langs die slegte sinkplaatpad te ry wat so verkeerd is, gebruik liewer die tyd en beskerm dit woestyn ekologie.
 

 

Rooidrompas is 'n mak passie

 


Purros is 'n juweel in die klipwoestyn, hier kan ruim tyd spandeer word. Ons was gelukkig om 'n trop van sewentien olifante, groot en klein, wat oor die jare aangepas het om hier te oorleef, in die Hoarusib te kon kry waar hulle baljaar het in die modder en hul kon dik suip het aan die syferwater.

 Kry vir jou 'n plaaslike gids en geniet die rivier met sy dierelewe dalk is die geluk aan jou kant om ook leeus daar te kry. Wees ook voorbereid vir die rivierbedding ook sy slagyster kan oopmaak en jou vasvang. Moet nooit met 'n enkel voertuig hierdie avontuur aanpak nie.

Die trop olifante wat aangepas
het om hier te oorleef.
Die Poort in die Hoarusib

Van Purros het ons in die rigting van Amspoort gery deur die Ganiasvlaktes en oornag agter koppies naby Amspoort. Wees versigtig om in die Hoanib te kamp, alleenlopende olifantbulle het al amok daar gemaak, so my raad is bly weg,  daar is vir ons almal 'n plekkie onder die son. Van Amspoort kan daar met die Hoanib tot naby Sesfontein gery word of, so na 25 km na die Poort draai links na Ganumub, op die DR 3707, na Sesfontein.  By Sesfontein is daar akkommodasie by die fort asook verskeie kampeerplekke. By die fort drink ons yskoue bier wat nie kante raak nie. Vir die dorstige voertuie was daar ook wel brandstof ! Nadat ons by die "Fontyn Shop" 'n telefoonkaart gekoop het en die familie laat weet het ons is reis was voorspoedig, het ons gaan oornag by Ongongokamp, 'n warmwater spa, maar nie voordat ons 'n Van Zylspas in die kleine moes deur nie. Van Ongongo doen ons aan by Palmwag, wat 'n fees, 'n oase in hierdie dor wêreld. Maak tyd om hierdie oase te geniet jy sal nie spyt wees nie. Die Kaokoveld is 'n belewenis, besluit self deel dit met ander, soos ons of bewaar dit vir jou as 'n geheim.

  Kaokoveld - Khaudom - Namibië - Richtersveld
 

Terug na Roetes