Kom saam...   bos toe!

TOERE - Klik hier vir meer inligting...

Grensdraad 4 x 4 Roete

       Hoofblad

 Waarom Bostoe?

Reise en Roetes

Toerusting

Toere

 

 

Terugvoer

Kontak Ons

Kaokoveld - Khaudom - Namibië - Richtersveld
 


Die roete:  Waar om te bly, wat om te sien, wat om saam terug te bring...

Ons word ingewag deur Ferdi van Heerden, Lennard van der Spuy en twee seuns Ferdi en Wikus. Die manne het net uit die veld gekom en is nat. Bruin modderwater het die twee spoor plaaspad in waterstrome verander na die goeie reën van die vorige dag en nag en beur nou in die rigting van die ou gruisgroef langs die grondpad vanaf Hopetown na Douglas.

Na ons die nodige vrywarings dokumente onderteken het, in die opstal op Wiklow, durf ons die waterstrome aan in die rigting van die Gariep (Oranje Rivier).Lennard en Ferdi ry voor in sy Land Rover en ons volg. Wikus ry saam in een van ons voertuie om weer die hekke toe te maak.

 

Lennard by sy 'Landy'

Alhoewel een van die voorwaardes in die vrywaringsdokument is dat daar net op aangewese roetes gebly mag word verlaat Lennard die tweespoorpad deur die veld na die begin van die Grensdraad 4X4 roete. Die veld is nat en water maak damme op die deurdrenkte Karoo bossieveld. Die grond is seepglad en die voertuie begin gly in die spore van die voorste voertuig. Om nie daar te bly staan nie, trap almal maar ‘n nuwe spoor.

Die roete loop al langs die grensdraad van die plaas, vandaar die naam van die roete, oor skerp klippe heuwels en klowe na die rivier. Dit reën nog steeds en die sig raak beperk in die voertuie soos die wasem teen die ruite saampak terwyl die viertrek voertuie in donkierat voort beweeg.

  Die vinnig-vloeiende Gariep
na die goeie reën.

Die roete is veilig en toets die vernuf van die bestuurder om sy voertuig teen die steil kliphellings af te neem tot onder in klowe waar daar, of deur ‘n driffie, of sloot gery word om die volgende heuwel weer aan te pak.

Volgens Lennard is die gedeelte langs die rivier die Hef Aan van die roete waar dik los sand op jou wag. Omdat sand momentum verg is dit moeilik om dit te hou as jy nog ‘n steilte afgaan tussen die bome deur en dan skielik agter ‘n boom ‘n sandwal moet uit. Hy het vir ons by al hierdie hefaans gewag om te verseker dat almal presies weet wat vir hom wag om die draai. Vir ons groep was die baie reën ‘n bonus en het hierdie uitdagings na kinderspeletjies laat lyk. By die haas onmoontlike uitdading, waar volgens Lennard, nog net een bestuurder dit kon regkry om in droë toestande dit te bemeester, is ons uit en weer terug. Ons volg toe die roete verder al langs die rivier tot waar Lennard ons gaan wys waar hulle ‘n nuwe gedeelte wil uitsit.

 Een van ons manne by 'n Hef Aan!

Ons is toe verby een van die drie ou diamantmyne op die plaas. By hierdie myn is in 1947 glo ‘n diamant van 95 karaat gevind en vir twee honderd pond verkoop, wat in vandag se terme slegs R400-00 is.

Lennard is ook baie opgewonde met die dat Evkom krag ook nou aangelê is, nou kan hy sy beplanning langs die rivier voltooi. Die nodigste, “Adam” en “Eva”, is alreeds in plek en daar is ook “donkies” waarin vuur gemaak word om warm water te verskaf vir diegene wat wil oornag by die oornagkamp op die rivieroewer.

Weereens het ek tot die beself gekom dat veldry, nie net op mooiweers dae geniet hoef te word nie, maar onder enige omstandighede. Wat belangrik is dat die bestuurder sy voertuig moet ken en weet hoe om dit te hanteer onder verskillende omstandighede.

Ons is terug na die plaasopstal met die tweespoor pad wat nou plek-plek  na lang damme met bruin modder water gelyk het. Die weer was reg om ‘n bietjie nabetragting oor ‘n glasie sjerrie en ‘n beker warm boeretroos te kon hou.

Modder...

 
 

Terug na Roetes

            Kaokoveld - Khaudom - Namibië - Richtersveld