|
Roetekaart: |
GPS Koördinate: |
|

*Klik op
die kaart vir 'n vergroting
|
*Klik hier
om 'n .zip lêer af te laai
met die roete se GPS Koördinate
GPS Koördinate (.zip
7KB)
|
Die roete: Waar om te bly, wat om te sien, wat om
saam terug te bring...
Ons vertrek Sondag 7
November vanaf Kimberley. Gaan maak gou ‘n draai op
LimeAcres om ‘n koppie tee by Lampies en Marlene te gaan drink. Die tee word ‘n
ligte middagete. Op Kuruman vul ons brandstof aan, dit
behoort mos darem goedkoper te wees as vorentoe!
By
Hotazel merk ek dat die afdraai bord na
VanZylsrus verwyder is en ons besluit om verder met
die teer te ry want daar is mos nog ‘n afdraai. Groot was die verbasing toe
ons na sowat 15 km ‘n nuwe afdraai kry met ‘n baie mooi verwelkomingsbord om
besoekers te verwelkom in die Kgalagadidistrik. Die eerste 10 km van die
nuwe pad is ook geteer en op VanZylsrus vind ons toe uit dat ons van die
eerstes was om op hierdie nuwe teerpad te kon ry.
Ons
het by Johan en Magda Wessels wat so pas die bestuur van die Gemsbok Lodge
oorgeneem het gekamp. Agter die hotel is daar ‘n terrein wat vir viertrek
voertuie geoormerk is. Daar is “Gatwas” en “Oppiepot” as jy verkies om onder
die sterre jou te reinig met koue water en om die natuur se roep te
beantwoord, as dit nie aanneemlik is nie is daar ook ‘n alternatief by die
lodge waar ook ‘n warm stort is
Ons word
baie vriendelik ontvang en gaan kyk die laaste paar minute na die sokker
wedstryd tussen Sundowns en Chiefs wat deur Sundowns met 3 – 1 gewen word
tot groot blydskap van die sowat 10 plaaslikes wat die wedstryd op televisie
gevolg het in die enigste kroeg op die dorpie. Johan nooi ons om saam met
hulle te eet van die wildspotjie wat hy gemaak het. Vroeg Maandagoggend gaan
verken ek die dorp wat spog met ‘n baie mooi NG kerkgebou en die strate is
netjies geplavei as deel van ‘n werkskeppingsprojek. Die besoeker word
verwelkom by die dorpsingang waar ‘n uithangbord met ‘n gemsbok daarop
uitgebeeld wat hang aan ‘n kameeldoringtak, albei eie aan hierdie wêreld.
Groot is my verbasing toe ek by die vulstasie kom en merk dat diesel in Van
Zylsrus ‘n hele ses sent goedkoper is as op Kuruman.
Ons
ontmoet ook vir oom Frik Sadler wat in die distrik boer. Hierdie mense is
gasvrye mense en gee om vir mekaar. Ons geniet ons verblyf en vertrek
moeilik die volgende oggend want daar is nog dit en dat wat ons moet kyk en
oor gesels. Ons gaan drink ‘n koppie tee by oom Frik Sadler wat ons spesiaal
genooi het. Hierdie oom praat hard en duidelik waar hy stoksiel alleen boer
op Bothasmoed. By die Land Rover sê hy weer onthou my nommer is “391” as
julle hulp nodig het bel my ek sal help. Gelukkig was dit nie nodig om oom
Frik te kontak nie. Maar soos ons vorder met die 152 km lange witpad na
Askham word dit duidelik dat water en eensaamheid ‘n
baie belangerike deel van die plaasname is. Name soos Middelputs, Slingerput,
Eensaamkasteel word gereflekteer op plaasnaamborde wat groot en duidelik
uitgebeeld word. Hierdie mense is nie skaam om te sê wie hy is en wat sy
plaas se naam is nie
 |
Vandag
gaan ons by die Gemsbokgrenspos Botswana binne, die geboue is nuut en
netjies en die personeel baie vriendelik en gaaf. Aan die Botswana
kant is daar nie ‘n grenspos nie, maar besoekers moet hulle gaan
aanmeld by die Bokspits polisiestasie waar die nodige gedoen word deur
ewe vriendelike personeel. Die pad aan die Botswanakant word gereeld
geskraap en is in baie goeie toestand. By die Two Rivers pos word ons
weer verwelkom deur ewe vriendelike personeel. Omdat ons vanaf Nossob
oor Matopi in Botswana gaan betaal ons by hierdie punt. Dit wil
voorkom asof kleingeld by alle kantore van die Botswana Wildlife ‘n
probleem is, so probeer maar om die regte hoeveelheid saam te bring.
|
Volgens parkbeamptes is daar tussen 43
000 en 45 000 van hierdie
pragdiere in die park - elke dag geklee in hul Sondag
uitrustings. |
Ons eerste
nag in die Oorgrenspark is by Twee Rivieren, ‘n
netjiese kamp en die abblusiegeriewe is ook onlangs oorgedoen en nog steeds
in goeie toestand, hier is nou krag en ook selfoon ontvangs.
Ons
vertrek die volgende oggend na Nossob, afgesien van die twee luiperds wat
ons naby die Twee Rivierenkamp gekry het is hierdie dag ‘n dag wat gekenmerk
is met baie voëls wat ons vergas in groot hoeveelhede. By ons aankoms is
daar ook ‘n hele paar sekretarisvoëls wat bad in die watergat by die hek.
Ons gaan soek koelte onder die bome in die kampterrein. ‘n Heerlike
somersaand en Susan maak vir ons ‘n heerlike potjie. Na ete gaan maak ons ‘n
draai by die verligte watergat waar net jakkalse van oral roep en een brawe
een hom verlustig aan die goggatjies wat onder die ligte swerm.
|
Woensdag en ons verlaat
die Suid Afrikaanse gedeelte en gaan Botswana in. Die eerste gedeelte
is duine maar niks om oor huistoe te skryf nie die Land Rover maak
korte mette van hulle. Die tweespoor sandpaaidjie kronkel deur die
bosse en verby ‘n paar panne. Dit is warm en afgesien van die
steenbokkies is daar nie veel diere te sien nie. Het darem so ‘n paar
gemsbokke gekry. Ons arriveer so by 12H00 by Matopi
1. Daar is net ‘n witgatboom waarvan die blare maar min is en koelte
dus skaars. Die enigste mensgemaakte tekens is die groenbord wat lees
“Camp Site” en ‘n sementblad waarop vuur gemaak kan word. Ons verskuif
na Matopi 2 hierdie witgat het darem meer blare wat darem meer koelte
bied, maar nie eens dit help teen die versengende hitte nie. Hier het
ek my geskaam vir vorige besoekers wat nie hulle vullis verwyder het
nie, maar net begrawe het. Die reël is wat jy inbring neem jy uit, nie
begrawe nie, jakkalse grawe weer wat jy begrawe het uit. Ons verwyl
die tyd met slaap en tydskrifte. |
 |
|
Terwyl almal in die koelte van 'n
Witgat dut, moet iemand wag hou! |
Omdat
Woensdag so warm was begin ons vroeg om darem so veel moontlik in die koelte
afgery te kry, ons is vroeg in Mabuashehube en
gaan meld aan by die hoofhek. Ons ry na Mpaathutlwapan en word vergas deur
‘n agttal leeus wat in die koelte van ‘n witgatboom lê en slaap. Ons eet ‘n
ligte middagete en dut ook in die koelte van ‘n witgat maar bo in die
daktent. Die middag gaan maak ons ‘n draai by Mabuashehube en Monamodi panne
maar ook hier is die wild skaars. Ons besluit om by die kampterrein by die
hoofhek te gaan slaap want ons weet nie wat die volgende dag vir ons gaan
inhou nie. Die weer verander en ‘n ligte buitjie reën sak uit wat die
versengende hitte breek.
 |
Vrydag en ons is vroeg uit die park en met die bekende sandhoofweg
tussen Tshabong en
Hunkuntsi vir so ‘n 40 kilometers en dan volg ons die kaplyn al op
die grens van die park tot by KAA. 200 kilo sand wat ons boverwagting
gou afry, danksy die reën van die vorige aand en die koel weer van die
dag.
Ons
is die enigste besoekers en kamp by die kamppeerplek by die hek.
Volgens die vriendelike personeel het daar leeus die vorige aand kom
drink en hulle verwag dat hul weer sal kom drink. Die wolke pak saam
en teen 18H00 open die hemelse sluise gepaard met ‘n sterk wind wat
ons van die uitkykpunt waar ons op die leeus gewag het verdryf na die
beskermming van die ingangshek. Danksy die goedgunstigheid van die
beampte in beheer oornag ons in een van die kantore. |
|
Geelbek Neushoringvoël (Tockus leucomwlas) met kenmerkende geel snawel
wat relatief groot is en
algemeen in hierdie gebied voorkom. |
Die
storm van die vorige aand het ‘n ommeswaai in die weer gebring en ons pak
die 80 kilo na die Nossobvallei aan. Dit is koel
en die sand nat wat weereens die rit baie vergemaklik. Die diere bly egter
skaars. Ons gaan maak ‘n draai by Union’s End teen die Namibiese grens en by
die nuwe tentekamp by Grootkolk. ‘n Ou groot maanhaar hou ons die nag wakker
waar hy aanhoudend rondom die kamp gebrul het.
Sondag en
ons vertrek weer na Twee Rivieren. By die uitspanning by Dikbaardskolk lê ‘n
groot maanhaar in die koelte van ‘n jong doringboompie, almal is so ingestel
op die ou grootte en word gou tot die werklikheid gebring toe ‘n verdere
twee mannetjies te voorskyn kom van waar hul agter die tent toiletgeriewe in
die koelte gelê het. Dit het my net weer tot die besef gebring wees altyd
parraat moet niks as selfsprekend aanvaar dat daar net een is nie. Die
duinepad na die Aubrivier aansluiting met die Mata Mata Twee Rivieren pad
was in ‘n baie goeie toestand en was die moeite werd om te ry in plaas van
die hoofpad tussen Nossob en Twee Rivieren wat die meeste verkeer dra. By
Twee Rivieren kon ons weer met die familie per selfoon gesels terwyl dit
lekker reën.
Die
weer bly koel en ons begin pak want vandag is daar weer ‘n langpad voor. By
die Botswanakant kom ons voor ‘n toe hek. Gelukkig was een van die beamptes
alreeds oppad om vir ons te kom oopmaak. Na ‘n paar skertsende woorde met
die beamptes is ons weg al in die Botswanakant tot by die polisiestasie by
Bokspits waar ons die nodige doen om Botswana te verlaat, na die nodige by
die Suid-Afrikaanse grens gedoen is durf ons weer die 4 kilometer aan tot by
Witdraai. By Witdraai draai ons regs met die teerpad
na Groot Mier. Oor ‘n hoogte en voor ons lê Koopan,
wat ‘n gesig! Nadat ons ‘n paar fotos geneem het is ons verder tot waar die
teer ophou by Mier. Ons gaan in die rigting van Klein
Mier en volg die slegte gruispad tot by die
Rietfontein grenspos. Hierdie 40 kilometers is waarlik ‘n klap in die
gesig van die Noord-Kaapse Paaie Departement.
|
Na die nodige
grensprosedures by Rietfontein en Klein
Mannasse is ons oppad na Aroab. By die Lafenis
Kafee koop ons die verpligte padpermit. Die Namibiese grondpaaie is in
‘n uitstekende toestand, die 190 km na Karasburg
wissel van duine, oop vlaktes en oor koppies. By Karasburg stop ons
vir iets om te eet en neem die grondpad na Noordoewer. Weereens is
daar nie ‘n groot verskil in die 90 km grond en 52 km teerpad nie. Hoe
nader ons aan Noordoewer kom word die veld
letterlik kaal by wyse van spreek net klippe en geen plantegroei.
Nadat ons die nodige
grensprosedures afgehandel het is ons in die rigting van Peace of
Paradise. Ons kon ons oë nie glo toe ons sien wat oor is van hierdie
eertydse paradys na die brand op nuwejaarsdag vanjaar. Die wêreld is
oortrek van drade, stukke skroot wat wissel van yskate, wasmasjiene en
tot ‘n motor wat totaal uitgebrand het. Ons gaan weer terug in die
rigting van die grens en gaan oornag by die kamp van die kinders van
Louwtjie Mulder. |
 |
|
Breëkop
Arend (Polemaetus bellicosus). Alhoewel voorkom wydverspreid is van
savanna tot semi-woestyn is voorkoms skaars. |
Die
kamp staan bekend as Aquacade en word bestuur deur Louwrika en klein
Louwtjie. Beide van hulle was nie daar nie en pa Louwtjie het ingestaan.
Hierdie is ‘n baie netjiese kamp en staan nie terug vir die eertydse Peace
of Paradise nie. Wat opvallend was is die hoeveelheid nuwe kampe wat
ontstaan het sedert ons besoek in 2001. Aquacade is nuut, netjies en billik
en word hoog aanbeveel. Wat ook ‘n voordeel is, is die feit dat dit baie
naby die grens is, die nadeel is dat die vragmotor verkeer steurend mag wees,
gelukkig is dit darem nie die besigste grens nie. Die privaat staanplekke
met elektriese kragpunte onder gras met eie braaigeriewe en die naby geleë
kamp kombuis en was en stryk geriewe maak weer op vir die nadeel van
moontlike padgeraas. Hierdie is nie net ‘n oorstaan kamp nie daar is vermaak
soos kanoritte en roei op die Oranje om te geniet sou verkies word om langer
te bly. Die wat nie in die kroegie iets wil geniet nie kan dit langs die
viswaters doen. Hout en ys is ook beskikbaar. Om die stof van die
Richtersveld af te was is daar warm en koue storte.
Ons
is terug oor die grens om te gaan kyk wat gaan aan op Warmbad. Die grondpad
is soos alle Namibiese paaie in uitstekende toestand. Warmbad was in die
vroeë jare die hoofdorp van die suide. Ongelukkig het dit hierdie status
verloor en is tans die dorp met die meeste verval wat ons in Namibië besoek
het. Daar is verskeie vervalle geboue en volgens die vrou in beheer van die
museum, wat in die ou duitse tronk ingerig is, het net die paar
regeringsamptenare werk in die dorp die res is almal werkloos. Daar is glo
sprake dat daar wel geld beskikbaar gestel is / gaan word om die bron te
ontwikkel, dit sal maar eers gesien moet word.
Van
Warmbad is ons in ‘n suidelike rigting na die
Velloorsdrif / Onseepkansgrenspos. Op
hierdie pad moes Susan ‘n paar keer uitklim om hek oop te maak. Met hierdie
wegbreek het ons verskeie motorhekke op Namibiese grond paaie gekry, maar ek
kan nie onthou wanneer laas ons op ‘n openbare pad gery het waar daar nog
swaaihekke is nie.
 |
By
die eerste hek was remmerke duidelik sigbaar waar ander motoriste
onkant gevang is. Ons daal vinnig en die omgewing gee ‘n canyon effek
met wingerde en ander landereye op die walle van die Oranje (Gariep)
wat soos ‘n groen slang kronkel weswaarts see toe. Ons is gelukkig
want die Rooipad Boerdery het vandag begin druiwe pak vir uitvoer.
Susan geniet die druiwe en betaal die prys later die aand met ‘n maag
wat nie aan so baie druiwe gewoond is nie.
Hierdie toer was weereens ‘n belewenis van ‘n ander aard. Ons gaan
weer terugkom om die Kalahari te geniet, die van julle wat dit wil
meemaak, is welkom om die toerrooster dop te hou vir verdere inligting. |
|
Van die mooi wat besigtig kan word in die
Kalahari / Kgalagadi...
Mooi was nog nooit lelik nie. |
|