Kom saam...   bos toe!

TOERE - Klik hier vir meer inligting...

Die Kgalagadi Oorgrenspark, Deel II

       Hoofblad

 Waarom Bostoe?

Reise en Roetes

Toerusting

Toere

 

 

Terugvoer

Kontak Ons

Kaokoveld - Khaudom - Namibië - Richtersveld
 

 

 
Roetekaart: GPS Koördinate:


*Klik op die kaart vir 'n vergroting
 

*Klik hier om 'n .zip lêer af te laai
met die roete se GPS Koördinate




GPS Koördinate  (.zip 7KB)




 

Die roete:  Waar om te bly, wat om te sien, wat om saam terug te bring...
Ons vertrek Sondag 7 November vanaf Kimberley. Gaan maak gou ‘n draai op LimeAcres om ‘n koppie tee by Lampies en Marlene te gaan drink. Die tee word ‘n ligte middagete. Op Kuruman vul ons brandstof aan, dit behoort mos darem goedkoper te wees as vorentoe!

 By Hotazel merk ek dat die afdraai bord na VanZylsrus verwyder is en ons besluit om verder met die teer te ry want daar is mos nog ‘n afdraai. Groot was die verbasing toe ons na sowat 15 km ‘n nuwe afdraai kry met ‘n baie mooi verwelkomingsbord om besoekers te verwelkom in die Kgalagadidistrik. Die eerste 10 km van die nuwe pad is ook geteer en op VanZylsrus vind ons toe uit dat ons van die eerstes was om op hierdie nuwe teerpad te kon ry. 

Ons het by Johan en Magda Wessels wat so pas die bestuur van die Gemsbok Lodge oorgeneem het gekamp. Agter die hotel is daar ‘n terrein wat vir viertrek voertuie geoormerk is. Daar is “Gatwas” en “Oppiepot” as jy verkies om onder die sterre jou te reinig met koue water en om die natuur se roep te beantwoord, as dit nie aanneemlik is nie is daar ook ‘n alternatief by die lodge waar ook ‘n warm stort is

Ons word baie vriendelik ontvang en gaan kyk die laaste paar minute na die sokker wedstryd tussen Sundowns en Chiefs wat deur Sundowns met 3 – 1 gewen word tot groot blydskap van die sowat 10 plaaslikes wat die wedstryd op televisie gevolg het in die enigste kroeg op die dorpie. Johan nooi ons om saam met hulle te eet van die wildspotjie wat hy gemaak het. Vroeg Maandagoggend gaan verken ek die dorp wat spog met ‘n baie mooi NG kerkgebou en die strate is netjies geplavei as deel van ‘n werkskeppingsprojek. Die besoeker word verwelkom by die dorpsingang waar ‘n uithangbord met ‘n gemsbok daarop uitgebeeld wat hang aan ‘n kameeldoringtak, albei eie aan hierdie wêreld. Groot is my verbasing toe ek by die vulstasie kom en merk dat diesel in Van Zylsrus ‘n hele ses sent goedkoper is as op Kuruman.

Ons ontmoet ook vir oom Frik Sadler wat in die distrik boer. Hierdie mense is gasvrye mense en gee om vir mekaar. Ons geniet ons verblyf en vertrek moeilik die volgende oggend want daar is nog dit en dat wat ons moet kyk en oor gesels. Ons gaan drink ‘n koppie tee by oom Frik Sadler wat ons spesiaal genooi het. Hierdie oom praat hard en duidelik waar hy stoksiel alleen boer op Bothasmoed. By die Land Rover sê hy weer onthou my nommer is “391” as julle hulp nodig het bel my ek sal help.  Gelukkig was dit nie nodig om oom Frik te kontak nie. Maar soos ons vorder met die 152 km lange witpad na Askham word dit duidelik dat water en eensaamheid ‘n baie belangerike deel van die plaasname is. Name soos Middelputs, Slingerput, Eensaamkasteel word gereflekteer op plaasnaamborde wat groot en duidelik uitgebeeld word. Hierdie mense is nie skaam om te sê wie hy is en wat sy plaas se naam is nie

Vandag gaan ons by die Gemsbokgrenspos Botswana binne, die geboue is nuut en netjies en die personeel baie vriendelik en gaaf. Aan die Botswana kant is daar nie ‘n grenspos nie, maar besoekers moet hulle gaan aanmeld by die Bokspits polisiestasie waar die nodige gedoen word deur ewe vriendelike personeel. Die pad aan die Botswanakant word gereeld geskraap en is in baie goeie toestand. By die Two Rivers pos word ons weer verwelkom deur ewe vriendelike personeel. Omdat ons vanaf Nossob oor Matopi in Botswana gaan betaal ons by hierdie punt. Dit wil voorkom asof kleingeld by alle kantore van die Botswana Wildlife ‘n probleem is, so probeer maar om die regte hoeveelheid saam te bring.
 
Volgens parkbeamptes is daar tussen 43 000 en 45 000 van hierdie
pragdiere in die park  - elke dag geklee in hul Sondag uitrustings.

Ons eerste nag in die Oorgrenspark is by Twee Rivieren, ‘n netjiese kamp en die abblusiegeriewe is ook onlangs oorgedoen en nog steeds in goeie toestand, hier is nou krag en ook selfoon ontvangs.

Ons vertrek die volgende oggend na Nossob, afgesien van die twee luiperds wat ons naby die Twee Rivierenkamp gekry het is hierdie dag ‘n dag wat gekenmerk is met baie voëls wat ons vergas in groot hoeveelhede.  By ons aankoms is daar ook ‘n hele paar sekretarisvoëls wat bad in die watergat by die hek. Ons gaan soek koelte onder die bome in die kampterrein. ‘n Heerlike somersaand en Susan maak vir ons ‘n heerlike potjie. Na ete gaan maak ons ‘n draai by die verligte watergat waar net jakkalse van oral roep en een brawe een hom verlustig aan die goggatjies wat onder die ligte swerm. 
 

Woensdag en ons verlaat die Suid Afrikaanse gedeelte en gaan Botswana in. Die eerste gedeelte is duine maar niks om oor huistoe te skryf nie die Land Rover maak korte mette van hulle. Die tweespoor sandpaaidjie kronkel deur die bosse en verby ‘n paar panne. Dit is warm en afgesien van die steenbokkies is daar nie veel diere te sien nie. Het darem so ‘n paar gemsbokke gekry.  Ons arriveer so by 12H00 by Matopi 1. Daar is net ‘n witgatboom waarvan die blare maar min is en koelte dus skaars. Die enigste mensgemaakte tekens is die groenbord wat lees “Camp Site” en ‘n sementblad waarop vuur gemaak kan word. Ons verskuif na Matopi 2 hierdie witgat het darem meer blare wat darem meer koelte bied, maar nie eens dit help teen die versengende hitte nie. Hier het ek my geskaam vir vorige besoekers wat nie hulle vullis verwyder het nie, maar net begrawe het. Die reël is wat jy inbring neem jy uit, nie begrawe nie, jakkalse grawe weer wat jy begrawe het uit. Ons verwyl die tyd met slaap en tydskrifte.

Terwyl almal in die koelte van 'n
Witgat dut, moet iemand wag hou!

Omdat Woensdag so warm was begin ons vroeg om darem so veel moontlik in die koelte afgery te kry, ons is vroeg in Mabuashehube en gaan meld aan by die hoofhek. Ons ry na Mpaathutlwapan en word vergas deur ‘n agttal leeus wat in die koelte van ‘n witgatboom lê en slaap. Ons eet ‘n ligte middagete en dut ook in die koelte van ‘n witgat maar bo in die daktent. Die middag gaan maak ons ‘n draai by Mabuashehube en Monamodi panne maar ook hier is die wild skaars. Ons besluit om by die kampterrein by die hoofhek te gaan slaap want ons weet nie wat die volgende dag vir ons gaan inhou nie. Die weer verander en ‘n ligte buitjie reën sak uit wat die versengende hitte breek.

Vrydag en ons is vroeg uit die park en met die bekende sandhoofweg tussen Tshabong en Hunkuntsi vir so ‘n 40 kilometers en dan volg ons die kaplyn al op die grens van die park tot by KAA. 200 kilo sand wat ons boverwagting gou afry, danksy die reën van die vorige aand en die koel weer van die dag.

Ons is die enigste besoekers en kamp by die kamppeerplek by die hek. Volgens die vriendelike personeel het daar leeus die vorige aand kom drink en hulle verwag dat hul weer sal kom drink. Die wolke pak saam en teen 18H00 open die hemelse sluise gepaard met ‘n sterk wind wat ons van die uitkykpunt waar ons op die leeus gewag het verdryf na die beskermming van die ingangshek. Danksy die goedgunstigheid van die beampte in beheer oornag ons in een van die kantore.

Geelbek Neushoringvoël (Tockus leucomwlas) met kenmerkende geel snawel wat relatief groot is en
algemeen in hierdie gebied voorkom.

Die storm van die vorige aand het ‘n ommeswaai in die weer gebring en ons pak die 80 kilo na die Nossobvallei aan. Dit is koel en die sand nat wat weereens die rit baie vergemaklik. Die diere bly egter skaars. Ons gaan maak ‘n draai by Union’s End teen die Namibiese grens en by die nuwe tentekamp by Grootkolk. ‘n Ou groot maanhaar hou ons die nag wakker waar hy aanhoudend rondom die kamp gebrul het.

Sondag en ons vertrek weer na Twee Rivieren. By die uitspanning by Dikbaardskolk lê ‘n groot maanhaar in die koelte van ‘n jong doringboompie, almal is so ingestel op die ou grootte en word gou tot die werklikheid gebring toe ‘n verdere twee mannetjies te voorskyn kom van waar hul agter die tent toiletgeriewe in die koelte gelê het. Dit het my net weer tot die besef gebring wees altyd parraat moet niks as selfsprekend aanvaar dat daar net een is nie. Die duinepad na die Aubrivier aansluiting met die Mata Mata Twee Rivieren pad was in ‘n baie goeie toestand en was die moeite werd om te ry in plaas van die hoofpad tussen Nossob en Twee Rivieren wat die meeste verkeer dra. By Twee Rivieren kon ons weer met die familie per selfoon gesels terwyl dit lekker reën.

 Die weer bly koel en ons begin pak want vandag is daar weer ‘n langpad voor. By die Botswanakant kom ons voor ‘n toe hek. Gelukkig was een van die beamptes alreeds oppad om vir ons te kom oopmaak. Na ‘n paar skertsende woorde met die beamptes is ons weg al in die Botswanakant tot by die polisiestasie by Bokspits waar ons die nodige doen om Botswana te verlaat, na die nodige by die Suid-Afrikaanse grens gedoen is durf ons weer die 4 kilometer aan tot by Witdraai. By Witdraai draai ons regs met die teerpad na Groot Mier. Oor ‘n hoogte en voor ons lê Koopan, wat ‘n gesig! Nadat ons ‘n paar fotos geneem het is ons verder tot waar die teer ophou by Mier. Ons gaan in die rigting van Klein Mier en volg die slegte gruispad tot by die Rietfontein grenspos. Hierdie 40 kilometers is waarlik ‘n klap in die gesig van die Noord-Kaapse Paaie Departement.

Na die nodige grensprosedures by Rietfontein en Klein Mannasse is ons oppad na Aroab. By die Lafenis Kafee koop ons die verpligte padpermit. Die Namibiese grondpaaie is in ‘n uitstekende toestand, die 190 km na Karasburg wissel van duine, oop vlaktes en oor koppies. By Karasburg stop ons vir iets om te eet en neem die grondpad na Noordoewer. Weereens is daar nie ‘n groot verskil in die 90 km grond en 52 km teerpad nie. Hoe nader ons aan Noordoewer kom word die veld letterlik kaal by wyse van spreek net klippe en geen plantegroei.

Nadat ons die nodige grensprosedures afgehandel het is ons in die rigting van Peace of Paradise. Ons kon ons oë nie glo toe ons sien wat oor is van hierdie eertydse paradys na die brand op nuwejaarsdag vanjaar. Die wêreld is oortrek van drade, stukke skroot wat wissel van yskate, wasmasjiene en tot ‘n motor wat totaal uitgebrand het. Ons gaan weer terug in die rigting van die grens en gaan oornag by die kamp van die kinders van Louwtjie Mulder.

 Breëkop Arend (Polemaetus bellicosus). Alhoewel voorkom wydverspreid is van savanna tot semi-woestyn  is voorkoms skaars.

Die kamp staan bekend as Aquacade en word bestuur deur Louwrika en klein Louwtjie. Beide van hulle was nie daar nie en pa Louwtjie het ingestaan. Hierdie is ‘n baie netjiese kamp en staan nie terug vir die eertydse Peace of Paradise nie. Wat opvallend was is die hoeveelheid nuwe kampe wat ontstaan het sedert ons besoek in 2001. Aquacade is nuut, netjies en billik en word hoog aanbeveel. Wat ook ‘n voordeel is, is die feit dat dit baie naby die grens is, die nadeel is dat die vragmotor verkeer steurend mag wees, gelukkig is dit darem nie die besigste grens nie. Die privaat staanplekke met elektriese kragpunte onder gras met eie braaigeriewe en die naby geleë kamp kombuis en was en stryk geriewe maak weer op vir die nadeel van moontlike padgeraas. Hierdie is nie net ‘n oorstaan kamp nie daar is vermaak soos kanoritte en roei op die Oranje om te geniet sou verkies word om langer te bly. Die wat nie in die kroegie iets wil geniet nie kan dit langs die viswaters doen. Hout en ys is ook beskikbaar. Om die stof van die Richtersveld af te was is daar warm en koue storte.

Ons is terug oor die grens om te gaan kyk wat gaan aan op Warmbad. Die grondpad is soos alle Namibiese paaie in uitstekende toestand. Warmbad was in die vroeë jare die hoofdorp van die suide. Ongelukkig het dit hierdie status verloor en is tans die dorp met die meeste verval wat ons in Namibië besoek het. Daar is verskeie vervalle geboue en volgens die vrou in beheer van die museum, wat in die ou duitse tronk ingerig is, het net die paar regeringsamptenare werk in die dorp die res is almal werkloos. Daar is glo sprake dat daar wel geld beskikbaar gestel is / gaan word om die bron te ontwikkel, dit sal maar eers gesien moet word.

Van Warmbad is ons in ‘n suidelike rigting na die Velloorsdrif / Onseepkansgrenspos. Op hierdie pad moes Susan ‘n paar keer uitklim om hek oop te maak. Met hierdie wegbreek het ons verskeie motorhekke op Namibiese grond paaie gekry, maar ek kan nie onthou wanneer laas ons op ‘n openbare pad gery het waar daar nog swaaihekke is nie.

By die eerste hek was remmerke duidelik sigbaar waar ander motoriste onkant gevang is. Ons daal vinnig en die omgewing gee ‘n canyon effek met wingerde en ander landereye op die walle van die Oranje (Gariep) wat soos ‘n groen slang kronkel weswaarts see toe. Ons is gelukkig want die Rooipad Boerdery het vandag begin druiwe pak vir uitvoer. Susan geniet die druiwe en betaal die prys later die aand met ‘n maag wat nie  aan so baie druiwe gewoond is nie.  

Hierdie toer was weereens ‘n belewenis van ‘n ander aard. Ons gaan weer terugkom om die Kalahari te geniet, die van julle wat dit wil meemaak, is welkom om die toerrooster dop te hou vir verdere inligting.

Van die mooi wat besigtig kan word in die Kalahari / Kgalagadi...
Mooi was nog nooit lelik nie.

            Kaokoveld - Khaudom - Namibië - Richtersveld