Kom saam...   bos toe!

TOERE - Klik hier vir meer inligting...

Die Groen Kalahari

       Hoofblad

 Waarom Bostoe?

Reise en Roetes

Toerusting

Toere

 

 

Terugvoer

Kontak Ons

Kaokoveld - Khaudom - Namibië - Richtersveld
 
Roetekaart: GPS Koördinate:

*Klik op die kaart vir 'n vergroting

*Klik hier om 'n .zip lêer af te laai
met die roete se GPS Koördinate


GPS Koördinate  (.zip 3KB)

 

Die roete:  Waar om te bly, wat om te sien, wat om saam terug te bring...
Ons besoek aan die groen Kalahari het saamgeval met ons besoek aan die  Kgalagadi Oorgrenspark  gedurende Junie / Julie 2004.

Ons rit na Twee Rivieren het ons onderbreek en die eerste nag by die Postma Gastehuis van Sarel en Mariana Le Roux op Postmasburg oorgebly. Dit is ‘n ou huis met gerieflike kamers en veilige parkering. Ontbyt is ingesluit by die oornagtarief. Aandete kan ook vooraf gereël word.

Vanaf Upington het ons na Twee Rivieren met die R360 gery tot by Askham waar brandstof aangevul is. Van daar het ons na die polisiestasie by Witdraai gery wat so +/- 10 km verder op pad na Twee Rivieren is. Hier het die polisie dan ook kamele geteël. Omdat hierdie gebied baie sanderig is het die polisie in die vorige eeu kamele gebruik vir patrolliewerk. Met ons besoek is ons dan ook meegedeel dat die kameelstalle nie meer bestaan nie, vir een of ander rede het manne met dikglasbrille seker besluit dat dit nie meer nodig is om hierdie erfenis te bewaar nie.  Dit word beweer dat daar tot 400 kamele was wat deur die polisie gebruik was by die verskeie poste. In 1950 is die gebruik van kamele gestaak, daar is darem ‘n standbeeld van ‘n polisieman op ‘n kameel voor die huidige polisiestasie in Upington, wat hierdie diere vereer vir hulle aandeel in polisieëring van hierdie gebied.

Wat ook baie opvallend was, was die menigde waarskuwingsbordjies om versigtig te wees vir uile en bakoorjakkalse. Ons het geen teken van uile gekry wat doodgery was nie, maar van die jakkalsies was daar baie. Op die grondpad was ook bordjies, net in ‘n ander kleur, as die langs die teerpad, gelukkig was daar geen teken van enige wat dood gery is nie.

Een van die baie waarskuwingsbordjies

 

Dit  wil tog lyk asof hierdie
bakoortjie met opset doodgery is.

     

Na ons besoek aan die Kgalagadi is ons terug na Upington, van daar is ons verder met die N14 verby Keimoes na Kakamas. Hierdie gebied is waar die groen kalahari tot sy reg kom, met wingerde op die walle van die magtige Oranje, en al langs die smal teerpad. Net voor die teerpad oor die Oranjerivier by Kakamas gaan is daar ‘n afdraai  na regs wat nog gemerk is Gemsbokpark, Riemvasmaak en Namibië.

Ons het hier regs gedraai en nie vir lank nie toe is ons weer op ‘n grondpad wat later vurk, na links al langs die rivier.  Langs hierdie pad is daar  verskeie boerdery bedrywighede wat wissel van wingerde, pakstore en werkershuisvesting.  Na so 30 km is die afdraai na Khamkirri op linkerhand.
 

Deel van die nou kloof waarin die Oranje
sy weg gevind het oppad na die see.

   

Khamkirri bied ‘n verskeidenheid geleenthede om lekker te kan kuier en die wêreld te geniet. Hulle het ook ‘n webwerf wat besoek kan word vir meer inligting. Ons besoek was in die winter en nie so aangenaam nie. Ons kon nie die 4x4 roete, alhoewel dit bespreek was, gaan ry nie omdat hulle besig was met jag in dieselfde gebied, veiligheid eerste.  Daar is gelukkig ‘n kort hindernisroete, waar ons as troosprys ons vaardighede kon gaan beproef. ‘n Besoek in die lente en herfs kan net ‘n bonus wees. Die somer word nie uitgesluit nie, maar dit is baie warm, wat dan weer ideal is, is om met bote op die rivier te roei en stroomversnellings te trotseer. Hierdie is druiwe wêreld, veral die pitlose sultana wat van laat November beskikbaar is. Dan praat ons nie eens van die wat gedroog word vir rosyne en die sap wat in bottels by die kelders beskikbaar is nie, dit is alles net ‘n groot fees. 

Op die hindernisroete by Khamkirri -
die stadigvloeiende Oranje in die agtergrond.

   


Van Khamkirri is ons na die Augrabiesvalle. Dit is ook ‘n nasionale park en besprekings word in Pretoria by die sentrale besprekingskantoor gedoen.  Hier by Augrabies verander die magtige Orange van ‘n breë stadig vloeiende rivier na ‘n donderende stroom water wat in ‘n skeur tussen die granietwande  verdwyn en dan in ‘n smal kloof verder vloei vir ongeveer 18 km. Die Augrabies waterval is die sesde grootste in die wêreld.  Hier is onoortreflike en asemrowende rotsformasies wat uniek is aan hierdie gebied en jou weer opnuut laat klein voel in die skepping.  Op die rotse wemel dit van akkedisse en salamanders. In die park is daar volop klipspringers wat rustig van rots tot rots jou vermaak. Ons het ook kameelperde gekry wat weer rustig aan die sagte blaartjies hoog in die bome gestaan en vreet het terwyl ons die omgewing verken het.

Die granietskeur waardeur
die Oranje verdwyn

Vir die stappers is daar dan ook die Dassie-staproete van 5 km om die onmiddellike omgewing te verken. Die Klipspringer-roete van 39.5 km word oor drie dae gedoen met basiese oornaggeriewe.

 

Van Augrabies is ons terug na Upington in die rigting van  Kimberley. Ons laaste nag in die natuur was by die Witsand Natuurreservaat.  Witsand met sy kenmerkende witsandduine omkring met rooi Kalahari sandduine is in die Postmasburg distrik geleë omtrent in die middel van Postmasburg in die noorde, Groblershoop in die suide en Griekwastad in die ooste. 

'n Bloukopsalmander

'n Klipspringertjie

Daar is verskeie grondpaaie wat  geneem kan word, alhoewel van Upington en Kimberley word die Volop-grondpad aanbeveel wat afdraai van die R64. 
 



Dit is ook hierdie duine wat bekend is om in die warm somermaande, onder gunstige omstandighede ‘n  brulgeluid te maak wanneer dit versteur word,  vandaar die naam “brulsand”.  Verskeie springbokkies vermaak ook besoekers met hul onverwagte opwagting in die kampeerarea.  Hierdie natuurreservaat is ook bekend vir sy voëllewe met die versamelvoëls met kenmerkende groot neste in die meeste kameeldorings.  

Daar is ook ‘n Kelkiewynskuiling by ‘n watergat vanwaar kelkiewyne, gevlekte sandpatryse en dubbelbandsandpatryse ongemerk van nader beskou kan word. Die gevlekte sandpartys en kelkiewyn kom drink gewoonlik in die oggend so 2 – 3 ure na sonsopkoms in groot getalle, tewyl die dubbelbandsandpatrys in kleiner getalle in die laat middag kom water drink. Hierdie skuiling bied ruimte vir tot 16 mense.

Die reservaat is baie billik en bied genoeg aktiwiteite om in die behoeftes van die dagbesoeker tot diegene wat langer wil bly se behoeftes te voorsien. Ander aktiwiteite sluit in fiets verhuring, duine-ry met duinborde en vir die botanikus is daar ‘n kronkelroete van 3 km deur die kalahariveld met gemerkte inheemse plante.  Nie ver van die reservaat is ook  twee viertrekroetes en ‘n speelplek vir die veldrymotorfiets entoesiaste.

 

Die 'afgaan' is darem baie
makliker as die opklim!

Daar is luukse chalets vir diegene wat nie van die kampplekke, wat met krag toegerus is en netjies ablusiegeriewe, wil gebruik maak nie. Hier is ook swembaddens om in te gaan afkoel in die warm Kalahari son.

Al die plekke word sterk aanbeveel vir ‘n wegbreek vakansie of as oornag stop, om die lang afstande in die Noord-Kaap te verkort, oppad na die Kgalagadi Oorgrenspark, Richtersveld of Namibië.

Vir meer inligting of ‘n wegbreek na enige van hierdie plekke is ek net ‘n vonkpos ver.

            Kaokoveld - Khaudom - Namibië - Richtersveld
 

Terug na Roetes