 |
|


Op agterpaaie deur afrika.
Na bykans 18 maande se
beplanning het ons groepie van vier pare in vier viertrekvoertuie Suid
Afrika op 10 Augustus 2008 verlaat en vir tagtig dae ons voertuie ons
tuistes gemaak.
Die
wenslysie van almal se voorkeur bestemmings het so lank geraak sodat die
beplande twee maande hopeloos te kort was. Al sou ons die twee maande kon
verdubbel, was dit nog nie genoeg nie. Ons het toe die langlem ingespan en
begin sny. Omdat Botswana vir ons goed bekend is en oom Bob nog nie tot sy
sinne gekom het nie, is Zimbabwe totaal buite rekening gelaat. Ons het so
gou moontlik deur Botswana gery om die Zambezi by Kazangula te kruis.
Eerste stop
was Livingstone, van die groep wou tog net die valle van die Zimbabwe kant
ook sien. Ongelukkig het die nodige dokumentasieformaliteite by die
Kazangulagrens bietjie langer geneem as wat beplan was en ook die gebrek aan
veilige parkering vir die voertuie aan die Zambië-kant, is besluit om nie
die valle te gaan kyk van die Zimbabwe kant nie. Die risiko was net te groot
om volgelaaide voertuie vir die Afrika-ekspedisie daar te laat en oor die
brug te stap na die Zimbabwe kant. Sodra dinge beter word in Zimbabwe sal
ons verseker kom kyk wat het in hierdie land oorgebly, die valle sal dan
verseker weer op die wenslysie wees.
Alhoewel
toerisme in Zambië, danksy die probleme in sy buurland, die land met sy baie
nulle dollar note, gebloei het, kon ons nog nie die regte blyplek vir die
selfry toeris in Livingstone kry nie. Net soos Botswana is die ouer
teerpaaie in Zambië die slagoffers van die Afrika verkeer. Tot tyd en wyl
die hoofroetes se teerpaaie herbou is verg dit geduld en deursettingsvermoë
om hierdie paaie te bemeester, sonder ernstige skade aan voertuie.
Ons eerste
ontspan was op ‘n eiland op die Kariba, jy voel soos ‘n magnaat wanneer jy
deel is van ‘n groep wat alleen op die eiland is met mense wat jou bedien.
Van die rustigheid van die lewe op die eiland was die Lusaka verkeer op ‘n
vrydagmiddag nie wat die dokter sou voorskryf vir ‘n rustige wegbreek in
Afrika nie.
Na Lusaka
met die “great east road” is ons oos, ook hierdie pad het alreeds die stryd
begin verloor teen die rubberbande van swaar vragmotors. Die hangbrug oor
die Luangwarivier word beskerm en sal hopelik nog vir baie jare verkeer oor
een van die groot riviere van Afrika neem. Ons besoek aan die South Luangwa
wildtuin was ‘n hoogtepunt, die pad via Chipata daarheen vergete, met ‘n
nagrit word ‘n buffel voor ons platgetrek deur ‘n groep van elf leeus, min
het ons geweet dat hierdie Afrika-ekspedisie deur leeus oorheers gaan word.
Die stewige koste van so ‘n rit was alreeds die aand vergete, ook hier het
ons geweet dat ons klein is in die hand van ons Skepper wat toegelaat het
dat ons kon aanskou hoe die natuur self in sy behoeftes voorsien.
Malawi was
vir ons totaal onbekend en op grond van inligting tot ons beskikking was ons
voorbereid vir ‘n tydsame grenskruising, die teenoorgestelde was egter waar
en kon ons alreeds ‘n dag spaar. Wie wil dan nou in Lilongwe tyd verwyl as
jy langs een van Afrika se mere op die strand kan kamp. Of dit nou langs
‘n meer is of by die see een of ander tyd gaan die wind jou roer, maak
voorsiening teen die koue windjie wat jou van oor die water gaan kom
begroet. Nie net is die paaie in Malawi baie beter as dié in hul buurland
nie, maar ook is die koste van brandstof ook heelwat vriendeliker op jou
sak. Wees versigtig, in Afrika is die fiets seker die mees populêre
vervoermiddel. Van vragdraers van bykans enige item tot fietstaxi’s. Hierdie
mense het geleer hoe om hierdie vermoermiddel optimaal te gebruik.
Die
inwoners van hierdie land, ingesluit die beamptes by die grensposte, is baie
vriendelik en laat jou welkom voel, miskien het hulle alreeds geleer dat
toerisme ‘n gans is wat goue eiers lê.
Ons is
verder noord langs die meer, tot by nog ‘n mooi rustige kampplek met baie
koeltebome, Nkhwazi Beach, hier was vir ‘n verandering genoeg water asook
baie warm water, dit was lekker om weer te kan warm stort. Plekke in afrika
om liewers te vermy is plekke waar “Overlander”-trokke met jongmense van oor
die wêreld aandoen, Chitimba is so ‘n uithangplek.
Besoek ook
Livigstonia,‘n sendingstasie op die berg, begin deur Dr. Robert Laws aan die
begin van die vorige eeu. Ons gids verwys na Dr Laws, as “the son of God”,
wat ‘n merkwaardige getuigskrif van hierdie man, wat ‘n Victoriaanse dorpie
hier begin het, klipgeboue, almal ouer as honderd jaar, nog steeds in
gebruik en huisves na al die jare ‘n skool, hospitaal en kollege. Die
indrukwekkende kerkgebou staan as getuie van die man se werk en word ook nog
gebruik. Dr Laws se woning word nou gebruik as gastehuis. Die smalpaadjie
van 16 kilometer teen die berg op laat ‘n viertrekvoertuig kreun om die
verskeie haarnaalddraaie tot bo, op ‘n hoogte van 700 meter bo seevlak, was
vir my ‘n hoogtepunt van Malawi met ‘n ongelooflike uitsig oor die meer en
platorand.
By Karonga
het ons eers bietjie inkopies gedoen om van die orige Malawi geld ontslae te
raak. Alhoewel die meeste toeristebestemmings in Afrika net die Amerikaanse
geldeenheid aanvaar as betaalmiddel is dit tog noodsaaklik om ook dollars te
ruil vir plaaslike geld, wat dit net makliker maak om brandstof, voedsel en
aandenkings te koop.
Na Malawi
en sy vriendelike mense wat Engels-magtig is, was dit Tanzanië waar taal ‘n
probleem begin word het. Die grenspospersoneel asook parkbeamptes was
Engels- magtig maar die man in die straat praat Swahili. By Bongo, ‘n
kampplek net buite Tukuyu, het ons probeer om hierdie taal te leer. Gewapen
met ‘n klein bietjie kennis van Swahili is ons verder, wat opmerklik was is
die tee- en ryslanderye tot teenaan die pad. In Mbeya beproef ons toe die
elektroniese bankstelsel van Tanzanië. Vooraf is vir ons gesê dat jy Afrika
nie sonder ‘n Visakaart in jou beursie kan aandurf nie. Dit is egter nie
waar nie, met ‘n Masterkaart is daar nie ‘n probleem nie. ‘n Standard Bank-
AutoBankkaart staan ook glad nie terug by die Stanbic-masjiene in die lande
waar hierdie filiaal van Standard Bank verteenwoordig is nie.
Omdat ons
nie graag op die hoofroetes wou wees nie is ons met die gruispad van Tunduma
oor Sumbawanga na die Katavi Nasionale park. By hierdie park kon ons
eerstehands beleef dat note ouer as 2001 van die Amerikaanse geldeenheid en
dié wat al hard gewerk het in die verlede, met ‘n skeurtjie asook dié wat
met kleefband gelap is, nie aanvaar word nie. By ontvangs is daar ‘n
masjientjie wat lyk na ‘n skandeerder waarmee alle note getoets word, word
die toets nie geslaag nie is jy gestrand. So om ‘n verleentheid te voorkom,
maak seker dat jou beursie gevul is met splinternuwe kraakvars note
voordat jy Afrika noord van die ZambeZi betree. Ons note was reg en kon ons
hierdie afgeleë park besoek. Omdat dit ook die park is wat die minste besoek
word in Tanzanië is die kanse goed dat jy die enigste besoeker is en alles
vir jouself het.
Na Katavi
is ons verder noord na Kigoma, ons moes ook in die spore van die grotes,
David Livingstone en Henry Stanley, gaan loop. By Ujiji kon ons ook gaan
staan waar Stanley onder ‘n mangoboom vir Livingstone gekry het en begroet
het met sy beroemde woorde “Dr Livingstone, I presume”. Van Kigoma is ons
verder noord met die slegte gruispad, kort-kort was daar vlugtelingkampe
waar vlugtelinge van Burundi gehuisves word. Jy is nie beperk tot jou
daktent of huiskontrepsie wanneer Afrika as ‘n selfrytoer aangepak word nie,
by Kibondo het ons gaan slaap in ‘n motel, tussen die wit, of was dit pienk
lakens vir goedkoper as wat ons by Kigoma betaal het vir kampering, hier was
ook nog ontbyt ingesluit. Dit was heerlik om vir een nag nie die daktent te
moes oopmaak nie.
Met ons
beplanning kon ons nie veel oor Rwanda uitvind nie, tot die
versekeringsmaatskappye by die huis is ook oningelig oor hierdie land, wou
nie ons voertuie verseker nie. Ons het besluit ons gaan kyk en is self
versekeraar, vandat ons die land Tanzanië met ‘n brug oor die Rusumovalle in
die Kagera-rivier by Rusumo binnegegaan het was ons verstom oor hierdie
land. Eerstens was daar geen probleem om die brug oor die valle te
fotografeer nie, in die meeste lande is sulke plekke van strategiese belang
en foto’s neem daarvan word streng verbied. Rwanda is ‘n Visa vriendelike
land vir Suid-Afrikaners, ‘n visa word flink en kosteloos by die grens
uitgereik. Dit was ook die eerste land waar ons aan die regterkant van die
pad ry, moet sê dit was nogal ‘n aanpassing, veral as ‘n voertuig van agter
jou inhaal en verby gaan. Rwanda is bergagtig met landerye tot hoog teen die
berge. Die meeste mense woon langs die goeie padnetwerk wat nogal ‘n
stremming plaas op die voertuigbestuurder om te alle tye bedag te wees wat
‘n beperking plaas om die gebied te bekyk.
In Kigale
is daar nog ‘n eerste vir ons, ‘n vier en twintig uur inkopiesentrum met
besighede soortgelyk aan dié wat ons tuis by inkopiesentrums kry. Die rede
vir ons besoek aan Rwanda was om gorillas te gaan kyk, die enigste land wat
‘n sukses van een honderd persent waarborg, die enigste land wat bereid is
om sover hul kop op die blok te plaas. Omdat ons nie baie goed voorbereid
was vir hierdie juweel in Afrika nie het ons ongelukkig veels te min tyd
toegelaat vir ons besoek, hierdie fout moet verseker reggestel word met ‘n
volgende besoek. As ons Rwanda vergelyk met die ander lande wat ons besoek
het en ook hier tuis dan kwalifiseer dit loshande vir die platinum-toekening
vir die skoonste land. Ongelooflik, voeg daarby ‘n goeie padnetwerk waarvan
die meeste geteer, ander in aanbou, vriendelike hulpvaardige beamptes en
inwoners was dit die hoogtepunt van ons Afrikatoer.
Ongelukkig
moes ons verder via Kisoro en Lake Bunyonyi in Uganda. In die Queen
Elizabeth Park gaan soek ons sjimpansees, of is dit nou mensape in die
Kyambura kloof, ook hierdie gidse ken hul storie. Iets wat ook hoog
aanbeveel word. Het nooit geweet dat hierdie diere ook vleiseters is nie,
altyd iets nuuts om te leer en met ons afrikatoer was daar baie nuwighede.
Nadat ons iets geëet het langs die Edward-meer is ons oor die ewenaar, vir
ons groep was dit nog ‘n eerste om per voertuig oor die ewenaar te ry,
nodeloos om te sê, daar is foto’s geneem, huistoe geskakel, met die nuwe
teerpad het ons goed gevorder en kon ons die aand langs nog ‘n meer, die
Nkurubumeer-natuurreservaat buite Fort Portal oornag. Nadat ons die
volgende oggend by Fort Portal, een van die min koloniale dorpe waarvan die
naam nie verander is nie, die AutoBankkaarte in die tellermasjien by die
Stanbic bank kon steek om weer ‘n geldjie te trek en brandstof ingooi is ons
verder oor Hoima na Masindi. Oppad na Masindi het ons ook ons eerste reën op
die toer gekry.
Op Masindi
het ons by die plaaslike mark en ook langs die pad groente en vrugte gekoop
voordat ons die Murchison Valle Nasionale Park binne is, op pad na ons kamp
by Red Chilli stop ons eers by die Murchison-valle in die Nyl, amper
soortgelyk aan die valle by Augrabies. Die riviere verskil so ietwat. Die
water van die Nyl, die langste rivier in afrika neem drie maande om die
6,650 km van Jinja waar dit ontspring uit die Victoriameer af te lê tot by
die Middellandse-see, vir ons van hier van die suidpunt van Afrika vloei die
water opwaarts, gelukkig weet ons darem ook die aarde is rond en alles noord
van die ewenaar is dit ook afwaarts. Die Gariep waarin die Augrabiesvalle
is, is die langste rivier in Suid Afrika, maar net 2,200 km. By Red Chilli
het ons behoorlik kennisgemaak met die noordelike hemisfeer se reën. Met ‘n
bootrit gaan ons tot aan die onderkant van die Murchison-valle, vir daardie
nag reël ons vir ‘n boskamp naby die Albertmeer, sewe leeus kom kyk hoe lyk
die voertuie van die mense van die suide, hulle kon nie fout vind nie en is
verder.
Ons gids,
wat ons moes huur vir die boskamp, het ons by Pakwach gaan aflaai, vat ons
pad, ons bestemming Mount Elgon, tot vandag weet ek nie of dit die
splinternuwe teerpad na Karuma, die brug oor die Karuma-valle wat ons nie
mag afgeneem het nie is nie, maar ons raak die pad byster en beland op ‘n
Sondagmiddag vieruur in die geharwar van Kampala. Ons vordering was ‘n
verbysterende 100 meter in een uur, sowat van verkeer het geeneen van ons
nog beleef nie. Gelukkig vir radioverbinding tussen die voertuie kon ons ‘n
noodaksieplan beraam. Verloor ons mekaar in die verkeer ontmoet ons weer by
Jinja. Die radio’s se strekafstand van ongeveer dertig kilometer maak dit
moontlik dat alhoewel ons nie mekaar kon sien nie ons tog wel met mekaar kan
kommunikeer, wat ‘n ligpunt in ‘n donker Afrika daardie aand.
By die
kampterein van “The Haven” buite Jinja, by verre die beste van die toer, kon
ons weer tot verhaal kom, klere was, warm stort en bad en weer met die mense
tuis kontak via die internet. Al kamp ons op die walle van die Nyl moes ons
ook gaan kyk waar hierdie rivier die Victoriameer verlaat vir sy pad noord.
Na drie dae
se weelde by “The Haven” is ons verder, die teerpad na Tororo was nie van
die bestes wat ons al gery het nie, mense op fietse vorder vinniger as ons
omdat hulle die verskriklike slaggate in die pad makliker kan misry as die
voertuie. Die groot getal vragmotors by die grenskruising met Kenia gee op
die oogaf ‘n wanindruk van die werklikheid. Die meeste prosedures by
grenskruising is dieselfde, maar elke land het tog ook sy unieke verskille,
vir Kenia moet die polisie ook nog ‘n stempel plaas op die carnet van die
voertuie. Gelukkig is daar by elke grenspos ‘n klomp gewilliges wat wil
help, maak net seker wat die man se fooi is, die meeste van hulle is lastig
en aanvaar nie nee vir ‘n antwoord nie, dit is Afrika en hoe gouer jy jou
daarmee versoen, hoe beter. Op pad na Kisumu waar ons by die Beach Resort op
die walle van die Victoriameer oornag het, is ons weer oor die ewenaar, as
dit nie vir die GPS was nie sou ons dit nie eens geweet het nie, op die pad
wat ons gery het is dit nie van belang vir die plaaslike mense nie of hulle
het nog nie daaraan gedink om dit onder die toeriste se aandag te bring nie.
Die vlak
van die Victoriameer het al meer as ‘n meter by die Beach Resort geval wat
vroeër ‘n spogplek moes gewees het, die agteruitgang van plekke soos hierdie
is ongelukkig nie goed vir die oorland-toeris nie, hopelik sal daar weer
iemand besef dat al hoe meer mense die moed bymekaarskraap om Afrika per
voertuig te verken. Die paaie in Afrika was baie beter as wat ons aanvanklik
verwag het, so was ons ook van die eerstes wat op van die nuut geteerde
paaie ons tog na die Maasai Mara kon voortsit. Met jou beplanning oor ‘n
gebied kry jy ‘n idee daarvan, hou by jou idee moet jou nie laat ompraat
deur mense soos die maasai nie, hulle springdanse mag wonderlik lyk, maar my
gevoel is hulle kyk waar kan hulle jou mislei. Na ons vinnige besoek aan
die Maasai Mara is ons oor Narok na die Naivashameer. Om Narok kon ons sien
dat die gebied vrugbaar is en dat daar groot geboer word. Dit het ook
duidelik geword dat die boere blankes is wie se voorsate vroeërjare vanuit
die suide daarheen verhuis het. Ons het by een van die plase ingedraai,
ongelukkig was dit Vrydag en die mense was dorp toe. Later het ons
bevestiging gekry van ons vermoede by die plaaslike mense, ons was reg, van
die groot saaiboere is Hugo’s en Jacobse. By Naivasha is die rooskweker van
“Kenya Roses” nog ‘n Afrikaanse Van den Berg. Volgende keer moet ons gaan
hoor hoe gaan dit met hierdie mense.
Gelukkig
hoef mens vandag nie afgesonder in die vreemde te voel nie, die tegnologie
is oral, selfoonontvangs is bykans in elke klein plekkie beskikbaar,
ongelukkig teen ‘n prys. Ons was ook gewapen met ‘n satellietfoon wat ons
soggens en saans tussen 7 en 8 aangeskakel het vir kommunikasie. Vooraf het
ons ook met Derrich Gardener van Brekvis met Derrich op RSG gereël wat ons
elke Saterdagoggend geskakel het om met ons te gesels oor ons wedervaringe
in Afrika, so kon die luisteraars hier aan die suidpunt van die kontinent
ook in die gedagtes deel in ons ondervindinge in Afrika. In Nairobi kon ons
ook hoor, of liewer op TV sien, dat die ANC vir president Mbeki gevra het om
afstand te doen van sy presidentskap. Ons het gedink ons verken Afrika, by
die Nairobi kampterrein kry ons twee Brasiliane wat die wêreld
stoksielalleen verken met hul goedingerigte Land Rover, ons toer was vir
drie maande, hulle s’n drie en ‘n half jaar en het nog net Afrika oor dan
het hulle hul droom verwesenlik.
Nadat ons
weer die voorrade aangevul het, verlaat ons die Keniase hoofstad en beweeg
suid, rigting Amboseli Nasionale Park, afgesien van al die diere wou ons ook
‘n blik kry van Afrika se hoogste berg, Kilimanjaro, dit is nou wel soos die
kraai vlieg ongeveer 25 km van daar, naby genoeg vir ons wat net Tafelberg
ken, al drie dae wat ons daar was kon ons hierdie ou grote duidelik sien,
wat ‘n voorreg, nie almal is so gelukkig nie, het al gehoor van mense wat
twyfel oor die bestaan daarvan omdat hulle vir ‘n week nooit bevoorreg was
om hierdie ou grote te kon sien nie. Die pad van Namanga tot by Amboseli en
weer terug na Namanga is nie die beste van wat ons al gery het nie, en was
ons dan ook die slagoffer van ‘n skokdemper wat gebreek het, gelukkig kon
ons gehelp word met ‘n goeie tweedehandse paar op Namanga wat vlytige
sypaadjiewerktuigkundiges teen ‘n prys vir ons vervang het, as jy in die
nood is, geld die ou wet van die Transvaal nog altyd. Dit bring my by die
vraag wat vat jy saam sou iets breek met so ‘n toer. Die verskillende
voertuigvervaardigers het hul huiswerk goed gedoen, niks hou vir ewig nie,
maar sal jou nie somaar verlaat nie, maak seker dat indien daar veranderinge
aan jou voertuig gemaak is dat daardie verandering wel geskik is vir die
doel. Daardie geel skokdempers wat jou glo bietjie sagter en gemakliker laat
ry, wees versigtig dit is hulle wat jou moontlik in die steek kan laat.
Verder neem enjinolie, ‘n stel olie, lug en brandstoffilters saam. Die olie
waaraan ons voertuie by die huis gewoond is, is nie oral beskikbaar nie, die
moontlikheid dat brandstof vuil kan wees is groot en lugfilters werk baie
harder as by die huis.
Terug in
Tanzanië is ons na Arusha waar ons oornag het by die Maasaikamp, een van die
bekende oornagkampe. Die volgende oggend kon die dames eers gou by Shoprite
gaan voorraad kry, waar hierdie Suid-Afrikaanse groep ‘n winkel het voel jy
of jy by die huis is, produkte wat jy ken. Met die regte beplanning hoef nie
voorrade vir drie maande saam gery word nie, in die groot sentra is daar ‘n
Shoprite of ‘n soortgelyke winkel en by plaaslike markte of by die
stalletjies langs die pad kan groente en vrugte ook aangevul word.
Die meeste
plekke in Afrika is vir toeriste onbekend, nie die Serengetti nie, ‘n besoek
aan hierdie wonderwêreld is die droom van baie. Doen jy jou huiswerk goed en
spaar jouself ‘n hele paar honderd van die Amerikaanse geldeenheid wat die
betaalmiddel is by Afrika se toeristebestemmings. Dit is sinneloos om twee
maal die toegangsroete daarheen en weer terug te ry, afgesien van die feit
dat die pad baie sleg is vanweë die geweldige verkeer is daar boonop ook ‘n
stewige deurgangsfooi betaalbaar. Ons het ‘n sirkelroete gery wat vir ons
beursievriendelik was en verder kon ons ook nog ander plekke soos die
Natronmeer, El Donyou Lengai, vulkaan, sien om nie te praat van om deur ‘n
deel van die skeurvallei te ry nie. Vir die invlieg buitelandse besoeker is
die gebied rondom Seronera die Serengetti, waar die meeste diere is,
gelukkig het ons mos ons eie wiele en kon ons ‘n baie groter gebied verken.
Die Ngorongoro-krater kon ons ook besoek, nog ‘n besienswaardigheid, waar
die kostes in honderde bereken word, omgeskakel na die Suid Afrikaanse rand
beloop dit duisende.
Na ‘n week
was ons weer terug in Arusha waar ons voertuie wou laat diens, ongelukkig
vir ons, of was dit dalk tot ons geluk, twee Moslemvakansiedae en die
motorhawens was gesluit. Ons is verder en het gaan kamp hoog in die
Umsambaraberge, by die goedversteekte en prentjiemooi Mullers Rest Camp.
Nadat ons longe goed gevul was met die skoon berglug is ons verder suid. Ons
wou nie ons tyd gaan mors in Dar Es Salaam waar daar ‘n vertrapping is van
mense en die aanhoudende geblaas van toeters is nie, daarom was ons op pad
na die Selous, oudste en grootste wildreservaat in Afrika asook een van die
wildste toevlugsoorde vir diere op aarde. Slegs die noordelike gedeelte van
die Selous is oop vir toerisme, die Rufijirivier wat deur die gebied vloei
is die lewensaar van die gebied. Ook hier het ons besluit om nie van die
normale toegangsroete gebruik te maak nie, nog ‘n agterpad, wat baie
interessanter was as die Selous self. Wat vir my baie teleurstellend was,
was die produktiwiteit van die beamptes by ontvangs, toegangsgelde is
betaalbaar per vier en twintig uur, waarmee ek geen probleem het nie, maar
om vir meer as twee ure te moes wag vir die uitreik van die nodige permitte
is belaglik om die minste te sê. Die toegangsgelde vir die Selous was ook
die duurste vir ons Afrikatoer, opsommend oor die gebied en sy beamptes en
wat ons gesien het, is ek van mening dat dit nie ‘n besoek regverdig nie.
Om van
Tanzanië na Mosambiek te reis word die Ruvumarivier gekruis, probleem daar
is nie ‘n brug nie, net ‘n veerboot of soos daar in Afrika gepraat word ‘n
“ferry”. Ons moes die Ruvuma kruis daarom was dit belangrik om op hoogte te
wees van die stand van sake, alhoewel ons die kaptein se kontaknommer gehad
het was daar ‘n probleem, die kaptein praat Swahili wat ons nie magtig was
nie. Waar ons mense gekry het wat moontlik kon help het ons navraag gedoen
om die nuutste inligting oor die ferry te bekom, probleem was dat die
inligting die meeste van die tyd verouderd was. In Mtwara, net vyf en dertig
kilometer van die Ruvuma, doen ons weer navraag by die polisie wat bevestig
dat die ferry in bedryf is, baie in ons skik met hierdie goeie nuus maak ons
reg vir hierdie avontuur, ja dit is ‘n avontuur want die watervlak van die
rivier is so laag dat die ferry slegs tydens hoogwater gebruik kan word. Die
een oor die Ruvuma het met ons gespook van voor ons reis en ook gedurende
die reis, eers het vloedwaters dit meegesleur, daarna was daar ‘n meganiese
probleem en uiteindelik kom deel twee, Suid-Afrikaaners wat in Mtwara woon,
met ons die nuus dat die Ruvuma-ferry gesink het. Ons enigste moontlike
alternatief, is ‘n ompad van bykans twee honderd kilometer, na waar ‘n brug
in aanbou is, met ‘n bietjie geluk kan ons moontlik die rivier daar kruis,
anders is dit terug deur Malawi. Vyf kilometer voor die “nuwe brug” is daar
‘n splinternuwe teerpad, dit lyk goed! By die tydelike grens moes ons
verneem dat die grensbeheerkantoor vyftien kilometer terug is by die tweede
“village” die Ruvumaspook wil net nie tot ruste kom nie, ons moes terug oor
houtbruggies wat elke keer lyk en voel jy was die laaste wat daaroor is
voordat die handdoek ingegooi is.
Ons vier
voertuie is oor die tydelike strukture wat gemaak is vir
konstruksiewerkers, hierdie rondte het ons gewen, hopelik sal ons die ander
ook wen, daar is nog nie grensbeheer in plek aan die Mosambiek-kant nie, ons
is in ‘n nuwe land, maar nie amptelik nie, ons volg ‘n bospad vir honderd en
twintig kilometer voordat ons die volgende dag by Ngapa by ‘n beheerpos
kom. Hier kon ons die paspoorte teen ‘n prys laat stempel, eerste land waar
ons moes betaal vir die diens. Nou is ons amptelik in die land, maar vir die
carnets vir die voertuie moes ons nog verder tot by Mocumbua Da Praia. Met
die carnets ook reg gestempel kon ons nou Mosambiek verken, eerste
padblokkade was by Aldeia waar vir ons fluitjie geblaas word soos vir
skoolkinders om in die ry te kom staan, niks was verkeerd nie en baie
teleurgestelde verkeersbeamptes moes ons laat gaan.
Die noorde
van Mosambiek het nog ‘n groot agterstand om te verwek voordat dit toeriste
vriendelik is, groot gedeeltes van die paaie kort dringend aandag, kampplek
is min en dié wat daar is bied min teen buitensporige tariewe. Russels Place
by Pemba was die enigste van dié waar ons gebly het wat aanbeveel kan word.
By Blantyre Lodge kon ons weer lekker warm stort, ‘n luukse vir Afrika na
die bekertjie-storte waaraan ons die laaste paar weke moes gewoond raak, ons
het ook nader aan die huis begin kom, hier was ook weer sittoilette, om op
jou hurke te sit oor ‘n gat in die grond was vir die meeste van ons ‘n
aanpassing. Malawi was net ‘n deurgangsroete, weer na Mosambiek na, die Tete
provinsie sodat ons by die Cahora Bassa Dam kon kom. By die grens was daar
weer ‘n fooi gehef vir die stempel van die paspoorte, gelukkig was hier ‘n
keuse, betaalbaar in Rand of die Amerikaanse geldeenheid, ongelukkig bly
die getal dieselfde, nodeloos om te sê ons gebruik ons eie geldeenheid om
daarvoor te betaal.
Persoonlik
sal ek nie weer hierdie land wil besoek nie, wees egter gewaarsku bly weg
van agterpaaie in die reënseisoen om riviere soos die Save en Limpopo, (waar
daar nog nie brue is nie), te wil kruis kan jou duur te staan kom.
Wat het die toer ons gekos; Eina! Sal ek weer gaan?, Verseker!. Wanneer is
die beste tyd om te gaan; middel Julie tot middel Oktober.
Verdere navrae.
|
|
|