Kom saam...   bos toe!

TOERE - Klik hier vir meer inligting...

       Hoofblad

 Waarom Bostoe?

Reise en Roetes

Toerusting

Toere

 

 

Terugvoer

Kontak Ons

 

Kaokoveld - Khaudom - Namibië - Richtersveld


 

 

Agterpaaie Prente

 

 

Op agterpaaie deur afrika.

Na bykans 18 maande se beplanning het ons groepie van vier pare in vier viertrekvoertuie Suid Afrika op 10 Augustus 2008 verlaat en vir tagtig dae ons voertuie ons tuistes gemaak.

Die wenslysie van almal se voorkeur bestemmings het so lank geraak sodat die beplande twee maande hopeloos te kort was. Al sou ons die twee maande kon verdubbel, was dit nog nie genoeg nie. Ons het toe die langlem ingespan en begin sny. Omdat Botswana vir ons goed bekend is en oom Bob nog nie tot sy sinne gekom het nie, is Zimbabwe totaal buite rekening gelaat. Ons het so gou moontlik deur Botswana gery om die Zambezi by Kazangula te kruis.

Eerste stop was Livingstone, van die groep wou tog net die valle van die Zimbabwe kant ook sien. Ongelukkig het die nodige dokumentasieformaliteite by die Kazangulagrens bietjie langer geneem as wat beplan was en ook die gebrek aan veilige parkering vir die voertuie aan die Zambië-kant, is besluit om nie die valle te gaan kyk van die Zimbabwe kant nie. Die risiko was net te groot om volgelaaide voertuie vir die Afrika-ekspedisie daar te laat en oor die brug te stap na die Zimbabwe kant. Sodra dinge beter word in Zimbabwe sal ons verseker kom kyk wat het in hierdie land oorgebly, die valle sal dan verseker weer op die wenslysie wees.

Alhoewel toerisme in Zambië, danksy die probleme in sy buurland, die land met sy baie nulle dollar note, gebloei het, kon ons nog nie die regte blyplek vir die selfry toeris in Livingstone kry nie. Net soos Botswana is die ouer teerpaaie in Zambië die slagoffers van die Afrika verkeer. Tot tyd en wyl die hoofroetes se teerpaaie herbou is verg dit geduld en deursettingsvermoë om hierdie paaie te bemeester, sonder ernstige skade aan voertuie.

Ons eerste ontspan was op ‘n eiland op die Kariba, jy voel soos ‘n magnaat wanneer jy deel is van ‘n groep wat alleen op die eiland is met mense wat jou bedien. Van die rustigheid van die lewe op die eiland was die Lusaka verkeer op ‘n vrydagmiddag nie wat die dokter sou voorskryf  vir ‘n rustige wegbreek in Afrika nie.

Na Lusaka met die “great east road” is ons oos, ook hierdie pad het alreeds die stryd begin verloor teen die rubberbande van swaar vragmotors. Die hangbrug oor die Luangwarivier word beskerm en sal hopelik nog vir baie jare verkeer  oor een van die groot riviere van Afrika neem. Ons besoek aan die South Luangwa wildtuin was ‘n hoogtepunt, die pad via Chipata daarheen vergete,  met ‘n nagrit word ‘n buffel voor ons platgetrek deur ‘n groep van elf leeus, min het ons geweet dat hierdie Afrika-ekspedisie deur leeus oorheers gaan word. Die stewige koste van so ‘n rit was alreeds die aand vergete, ook hier het ons geweet dat ons klein is in die hand van ons Skepper wat toegelaat het dat ons kon aanskou hoe die natuur self in sy behoeftes voorsien.

Malawi was vir ons totaal onbekend en op grond van inligting tot ons beskikking was ons voorbereid vir ‘n  tydsame grenskruising, die teenoorgestelde was egter waar en kon ons alreeds ‘n dag  spaar. Wie wil dan nou in Lilongwe tyd verwyl as jy  langs een van Afrika se mere op die strand kan kamp.  Of dit nou langs ‘n meer is of by die see een of ander tyd gaan die wind jou roer, maak voorsiening teen die koue windjie wat jou van oor die water gaan kom begroet.  Nie net is die paaie in Malawi baie beter as dié in hul buurland nie, maar ook is die koste van brandstof ook heelwat  vriendeliker op jou sak. Wees versigtig, in Afrika is die fiets seker die mees populêre vervoermiddel. Van vragdraers van bykans enige item tot fietstaxi’s. Hierdie mense het geleer hoe om hierdie vermoermiddel optimaal te gebruik.

Die inwoners van hierdie land, ingesluit die beamptes by die grensposte, is baie vriendelik en laat jou welkom voel, miskien het hulle alreeds geleer dat toerisme ‘n gans is wat goue eiers lê.

Ons is verder noord langs die meer, tot by nog ‘n mooi rustige kampplek met baie koeltebome, Nkhwazi Beach, hier was vir ‘n verandering  genoeg water asook baie warm water, dit was lekker om weer te kan warm stort. Plekke in afrika om liewers te vermy is plekke waar “Overlander”-trokke met jongmense van oor die wêreld aandoen,  Chitimba is so ‘n uithangplek.

Besoek ook Livigstonia,‘n sendingstasie op die berg, begin deur Dr. Robert Laws aan die begin van die vorige eeu. Ons gids verwys na Dr Laws, as “the son of God”, wat ‘n merkwaardige getuigskrif van hierdie man, wat ‘n Victoriaanse dorpie hier begin het, klipgeboue, almal ouer as honderd jaar, nog steeds in gebruik en huisves na al die jare ‘n skool, hospitaal en kollege. Die indrukwekkende kerkgebou staan as getuie van die man se werk en word ook nog gebruik. Dr Laws se woning  word nou gebruik as gastehuis. Die smalpaadjie van 16 kilometer teen die berg op laat ‘n viertrekvoertuig kreun om die verskeie haarnaalddraaie tot bo, op ‘n hoogte van 700 meter bo seevlak, was vir my ‘n hoogtepunt van Malawi met ‘n  ongelooflike uitsig oor die meer en platorand.

By Karonga het ons eers bietjie inkopies gedoen om van die orige Malawi geld ontslae te raak. Alhoewel die meeste toeristebestemmings in Afrika net die Amerikaanse geldeenheid aanvaar as betaalmiddel is dit tog noodsaaklik om ook dollars te ruil vir plaaslike geld, wat dit net makliker maak om brandstof, voedsel en aandenkings te koop.

Na Malawi en sy vriendelike mense wat Engels-magtig is, was dit Tanzanië waar  taal ‘n probleem begin word het. Die grenspospersoneel asook parkbeamptes was Engels- magtig maar die man in die straat praat Swahili. By Bongo, ‘n  kampplek net buite Tukuyu,  het ons probeer om hierdie taal te leer. Gewapen met ‘n klein bietjie kennis van Swahili is ons verder, wat opmerklik was is die tee- en ryslanderye tot teenaan die pad. In Mbeya beproef ons toe die elektroniese bankstelsel van Tanzanië. Vooraf is vir ons gesê dat jy Afrika nie sonder ‘n Visakaart in jou beursie kan aandurf nie. Dit is egter nie waar nie, met ‘n Masterkaart is daar nie ‘n probleem nie. ‘n Standard Bank- AutoBankkaart staan ook glad nie terug by die Stanbic-masjiene in die lande waar hierdie filiaal van Standard Bank verteenwoordig is nie.

Omdat ons nie graag op die hoofroetes wou wees nie is ons met die gruispad van Tunduma oor Sumbawanga na die Katavi Nasionale park.  By hierdie park kon ons eerstehands beleef dat note ouer as 2001 van die Amerikaanse geldeenheid en dié wat al hard gewerk het in die verlede, met ‘n skeurtjie asook dié wat met kleefband gelap is, nie aanvaar word nie. By ontvangs is daar ‘n masjientjie wat lyk na ‘n skandeerder waarmee alle note getoets word, word die toets nie geslaag nie is jy gestrand. So om ‘n verleentheid te voorkom, maak seker dat  jou beursie gevul is met  splinternuwe kraakvars note voordat jy Afrika noord van die ZambeZi betree. Ons note was reg en kon ons hierdie afgeleë park besoek. Omdat dit ook die park is wat die minste besoek word in Tanzanië is die kanse goed dat jy die enigste besoeker is en alles vir jouself het.

Na Katavi is ons verder noord na Kigoma, ons moes ook in die spore van die grotes, David Livingstone en Henry Stanley, gaan loop. By Ujiji kon ons ook gaan staan waar Stanley onder ‘n mangoboom vir Livingstone gekry het en begroet het met sy beroemde woorde  “Dr Livingstone, I presume”.  Van Kigoma is ons verder noord met die slegte gruispad, kort-kort was daar vlugtelingkampe waar vlugtelinge van Burundi gehuisves word. Jy is nie beperk tot jou daktent of huiskontrepsie wanneer Afrika as ‘n selfrytoer aangepak word nie, by Kibondo het ons gaan slaap in ‘n motel, tussen die wit, of was dit pienk lakens vir goedkoper as wat ons by Kigoma betaal het vir kampering, hier was ook nog ontbyt ingesluit. Dit was heerlik om vir een nag nie die daktent te moes oopmaak nie.

Met ons beplanning kon ons nie veel oor Rwanda uitvind nie, tot die versekeringsmaatskappye by die huis is ook oningelig oor hierdie land, wou nie ons voertuie verseker nie. Ons het besluit ons gaan kyk en is self versekeraar, vandat ons die land Tanzanië met ‘n brug oor die Rusumovalle in die Kagera-rivier by Rusumo binnegegaan het was ons verstom oor hierdie land. Eerstens was daar geen probleem om die brug oor die valle te fotografeer nie, in die meeste lande is sulke plekke van strategiese belang en foto’s neem daarvan word streng verbied. Rwanda is ‘n Visa vriendelike land vir Suid-Afrikaners, ‘n visa word flink en kosteloos by die grens uitgereik. Dit was ook die eerste land waar ons aan die regterkant van die pad ry, moet sê dit was nogal ‘n aanpassing, veral as ‘n voertuig van agter jou inhaal en verby gaan. Rwanda is bergagtig met landerye tot hoog teen die berge. Die meeste mense woon langs die goeie padnetwerk wat nogal ‘n stremming plaas op die voertuigbestuurder om te alle tye bedag te wees wat ‘n beperking plaas om die gebied te bekyk.

In Kigale is daar nog ‘n eerste vir ons, ‘n vier en twintig uur inkopiesentrum met besighede soortgelyk aan dié wat ons tuis by inkopiesentrums kry. Die rede vir ons besoek aan Rwanda was om gorillas te gaan kyk, die enigste land wat ‘n sukses van een honderd persent  waarborg, die enigste land wat bereid is om sover hul kop op die blok te plaas. Omdat ons nie baie goed voorbereid was vir hierdie juweel in Afrika nie het ons ongelukkig veels te min tyd toegelaat vir ons besoek, hierdie fout moet verseker reggestel word met ‘n volgende besoek. As ons Rwanda vergelyk met die ander lande wat ons besoek het en ook hier tuis dan kwalifiseer dit loshande vir die platinum-toekening vir die skoonste land. Ongelooflik, voeg daarby ‘n goeie padnetwerk waarvan die meeste geteer, ander in aanbou, vriendelike hulpvaardige  beamptes en inwoners was dit die hoogtepunt van ons Afrikatoer.

Ongelukkig moes ons verder via Kisoro en Lake Bunyonyi in Uganda. In die Queen Elizabeth Park gaan soek ons sjimpansees, of is dit nou mensape in die Kyambura  kloof, ook hierdie gidse ken hul storie. Iets wat ook hoog aanbeveel word. Het nooit geweet dat hierdie diere ook vleiseters is nie, altyd iets nuuts om te leer en met ons afrikatoer was daar baie nuwighede. Nadat ons iets geëet het langs die Edward-meer is ons oor die ewenaar, vir ons groep was dit nog ‘n eerste om per voertuig oor die ewenaar te ry, nodeloos om te sê, daar is foto’s geneem, huistoe geskakel, met die nuwe teerpad het ons goed gevorder en kon ons die aand langs nog ‘n meer, die Nkurubumeer-natuurreservaat buite Fort Portal oornag.  Nadat ons die volgende oggend by Fort Portal, een van die min koloniale dorpe waarvan die naam nie verander is nie, die AutoBankkaarte in die tellermasjien by die Stanbic bank kon steek om weer ‘n geldjie te trek en brandstof ingooi is ons verder oor Hoima na Masindi. Oppad na Masindi het ons ook ons eerste reën op die toer gekry.

Op Masindi het ons by die plaaslike mark en ook langs die pad groente en vrugte gekoop voordat ons die Murchison Valle Nasionale Park binne is, op pad na ons kamp by Red Chilli stop ons eers by die Murchison-valle in die Nyl, amper soortgelyk aan die valle by Augrabies. Die riviere verskil so ietwat. Die water van die Nyl, die langste rivier in afrika neem drie maande om die 6,650 km van Jinja waar dit ontspring uit die Victoriameer af te lê tot by die Middellandse-see, vir ons van hier van die suidpunt van Afrika vloei die water opwaarts, gelukkig weet ons darem ook die aarde is rond en alles noord van die ewenaar is dit ook afwaarts. Die Gariep waarin die Augrabiesvalle is, is die langste rivier in Suid Afrika, maar net 2,200 km. By Red Chilli het ons behoorlik kennisgemaak met die noordelike hemisfeer se reën. Met ‘n bootrit gaan ons tot aan die onderkant van die Murchison-valle, vir daardie nag reël ons vir ‘n boskamp naby die Albertmeer, sewe leeus kom kyk hoe lyk die voertuie van die mense van die suide, hulle kon nie fout vind nie en is verder.

Ons gids, wat ons moes huur vir die boskamp, het ons by Pakwach gaan aflaai, vat ons pad, ons bestemming Mount Elgon, tot vandag weet ek nie of dit die splinternuwe teerpad na Karuma, die brug oor die Karuma-valle wat ons nie mag afgeneem het nie is nie, maar ons raak die pad byster en beland op ‘n Sondagmiddag vieruur in die geharwar van Kampala. Ons vordering was ‘n verbysterende 100 meter in een uur, sowat van verkeer het geeneen van ons nog beleef nie. Gelukkig vir radioverbinding tussen die voertuie kon ons ‘n noodaksieplan beraam. Verloor ons mekaar in die verkeer ontmoet ons weer by Jinja. Die radio’s se strekafstand van ongeveer dertig kilometer maak dit moontlik dat alhoewel ons nie mekaar kon sien nie ons tog wel met mekaar kan kommunikeer, wat ‘n ligpunt in ‘n donker Afrika daardie aand.

By die kampterein van “The Haven” buite Jinja, by verre die beste van die toer, kon ons weer tot verhaal kom, klere was, warm stort en bad en weer met die mense tuis kontak via die internet. Al kamp ons op die walle van die Nyl moes ons ook gaan kyk waar hierdie rivier die Victoriameer verlaat vir sy pad noord.

Na drie dae se weelde by “The Haven” is ons verder, die teerpad na Tororo was nie van die bestes wat ons al gery het nie, mense op fietse vorder vinniger as ons omdat hulle die verskriklike slaggate in die pad makliker kan misry as die voertuie. Die groot getal vragmotors by die grenskruising met Kenia gee op die oogaf ‘n wanindruk van die werklikheid. Die meeste prosedures by grenskruising is dieselfde, maar elke land het tog ook sy unieke verskille, vir Kenia moet die polisie ook nog ‘n stempel plaas op die carnet van die voertuie. Gelukkig is daar by elke grenspos ‘n klomp gewilliges wat wil help, maak net seker wat die man se fooi is, die meeste van hulle is lastig en aanvaar nie nee vir ‘n antwoord nie, dit is Afrika en hoe gouer jy jou daarmee versoen, hoe beter. Op pad na Kisumu waar ons by die Beach Resort op die walle van die Victoriameer oornag het, is ons weer oor die ewenaar, as dit nie vir die GPS was nie sou ons dit nie eens geweet het nie, op die pad wat ons gery het is dit nie van belang vir die plaaslike mense nie of hulle het nog nie daaraan gedink om dit onder die toeriste se aandag te bring nie.

Die vlak van die Victoriameer het al meer as ‘n meter by die Beach Resort geval wat vroeër ‘n spogplek moes gewees het, die agteruitgang van plekke soos hierdie is ongelukkig nie goed vir die oorland-toeris nie, hopelik sal daar weer iemand besef dat al hoe meer mense die moed bymekaarskraap om Afrika per voertuig te verken. Die paaie in Afrika was baie beter as wat ons aanvanklik verwag het, so was ons ook van die eerstes wat op van die nuut geteerde paaie ons tog na die Maasai Mara kon voortsit. Met jou beplanning oor ‘n gebied kry jy ‘n idee daarvan, hou by jou idee moet jou nie laat ompraat deur mense soos die maasai nie, hulle springdanse mag wonderlik lyk, maar my gevoel is hulle kyk waar kan hulle jou mislei.  Na ons vinnige besoek aan die Maasai Mara is ons oor Narok na die Naivashameer. Om Narok kon ons sien dat die gebied vrugbaar is en dat daar groot geboer word. Dit het ook duidelik geword dat die boere blankes is wie se voorsate vroeërjare vanuit die suide daarheen verhuis het. Ons het by een van die plase ingedraai, ongelukkig was dit Vrydag en die mense was dorp toe. Later het ons bevestiging gekry van ons vermoede by die plaaslike mense, ons was reg, van die groot saaiboere is Hugo’s en Jacobse. By Naivasha is die rooskweker van “Kenya Roses” nog ‘n Afrikaanse Van den Berg. Volgende keer moet ons gaan hoor hoe gaan dit met hierdie mense.

Gelukkig hoef mens vandag nie afgesonder in die vreemde te voel nie, die tegnologie is oral, selfoonontvangs is bykans in elke klein plekkie beskikbaar, ongelukkig teen ‘n prys. Ons was ook gewapen met ‘n satellietfoon wat ons soggens en saans tussen 7 en 8 aangeskakel het vir kommunikasie. Vooraf het ons ook met Derrich Gardener van Brekvis met Derrich op RSG gereël wat ons elke Saterdagoggend geskakel het om met ons te gesels oor ons wedervaringe in Afrika, so kon die luisteraars hier aan die suidpunt van die kontinent ook in die gedagtes deel in ons ondervindinge in Afrika. In Nairobi kon ons ook hoor, of liewer op TV sien, dat die ANC vir president Mbeki gevra het om afstand te doen van sy presidentskap. Ons het gedink ons verken Afrika, by die Nairobi kampterrein kry ons twee Brasiliane wat die wêreld stoksielalleen verken met hul goedingerigte Land Rover, ons toer was vir drie maande, hulle s’n drie en ‘n half jaar en het nog net Afrika oor dan het hulle hul droom verwesenlik.

Nadat ons weer die voorrade aangevul het, verlaat ons die Keniase hoofstad en beweeg suid, rigting Amboseli Nasionale Park, afgesien van al die diere wou ons ook ‘n blik kry van Afrika se hoogste berg, Kilimanjaro, dit is nou wel soos die kraai vlieg ongeveer 25 km van daar, naby genoeg vir ons wat net Tafelberg ken, al drie dae wat ons daar was kon ons hierdie ou grote duidelik sien, wat ‘n voorreg, nie almal is so gelukkig nie, het al gehoor van mense wat twyfel oor die bestaan daarvan omdat hulle vir ‘n week nooit bevoorreg was om hierdie ou grote te kon sien nie.  Die pad van Namanga tot by Amboseli en weer terug na Namanga is nie die beste van wat ons al gery het nie, en was ons dan ook die slagoffer van ‘n skokdemper wat gebreek het, gelukkig kon ons gehelp word met ‘n goeie tweedehandse paar op Namanga wat vlytige sypaadjiewerktuigkundiges teen ‘n prys vir ons vervang het, as jy in die nood is, geld die ou wet van die Transvaal nog altyd. Dit bring my by die vraag wat vat jy saam sou iets breek met so ‘n toer. Die verskillende voertuigvervaardigers het hul huiswerk goed gedoen, niks hou vir ewig nie, maar sal jou nie somaar verlaat nie, maak seker dat indien daar veranderinge aan jou voertuig gemaak is dat daardie verandering wel geskik is vir die doel. Daardie geel skokdempers wat jou glo bietjie sagter en gemakliker laat ry, wees versigtig dit is hulle wat jou moontlik in die steek kan laat. Verder neem enjinolie, ‘n stel olie, lug en brandstoffilters saam. Die olie waaraan ons voertuie by die huis gewoond is, is nie oral beskikbaar nie, die moontlikheid dat brandstof vuil kan wees is groot en lugfilters werk baie harder as by die huis.

Terug in Tanzanië is ons na Arusha waar ons oornag het by die Maasaikamp, een van die bekende oornagkampe. Die volgende oggend kon die dames eers gou by Shoprite gaan voorraad kry, waar hierdie Suid-Afrikaanse groep ‘n winkel het voel jy of jy by die huis is, produkte wat jy ken. Met die regte beplanning hoef nie voorrade vir drie maande saam gery word nie, in die groot sentra is daar ‘n Shoprite of ‘n soortgelyke winkel en by plaaslike markte of  by die stalletjies langs die pad kan groente en vrugte ook aangevul word. 

Die meeste plekke in Afrika is vir toeriste onbekend, nie die Serengetti nie, ‘n besoek aan hierdie wonderwêreld is die droom van baie. Doen jy jou huiswerk goed en spaar jouself ‘n hele paar honderd van die Amerikaanse geldeenheid wat die betaalmiddel is by Afrika se toeristebestemmings. Dit is sinneloos om twee maal die toegangsroete daarheen en weer terug te ry, afgesien van die feit dat die pad baie sleg is vanweë die geweldige verkeer is daar boonop ook ‘n stewige deurgangsfooi betaalbaar. Ons het ‘n sirkelroete gery wat vir ons beursievriendelik was en verder kon ons ook nog ander plekke soos die Natronmeer, El Donyou Lengai, vulkaan,  sien om nie te praat van om deur ‘n deel van die skeurvallei te ry nie. Vir die invlieg buitelandse besoeker is die gebied rondom Seronera die Serengetti, waar die meeste diere is, gelukkig het ons mos ons eie wiele en kon ons ‘n baie groter gebied verken. Die Ngorongoro-krater kon ons ook besoek, nog ‘n besienswaardigheid, waar die kostes in honderde bereken word, omgeskakel na die Suid Afrikaanse rand beloop dit duisende.

Na ‘n week was ons weer terug in Arusha waar ons voertuie wou laat diens, ongelukkig vir ons, of was dit dalk tot ons geluk, twee Moslemvakansiedae en die  motorhawens was gesluit. Ons is verder en het gaan kamp hoog in die Umsambaraberge, by die goedversteekte en prentjiemooi Mullers Rest Camp. Nadat ons longe goed gevul was met die skoon berglug is ons verder suid. Ons wou nie ons tyd gaan mors in Dar Es Salaam waar daar ‘n vertrapping is van mense en die aanhoudende geblaas van toeters is nie, daarom was ons op pad na die Selous, oudste en grootste wildreservaat in Afrika asook een van die wildste toevlugsoorde vir diere op aarde. Slegs die noordelike gedeelte van die Selous is oop vir toerisme, die Rufijirivier wat deur die gebied vloei is die lewensaar van die gebied. Ook hier het ons besluit om nie van die normale toegangsroete gebruik te maak nie, nog ‘n agterpad, wat baie interessanter was as die Selous self. Wat vir my baie teleurstellend was, was die produktiwiteit van die beamptes by ontvangs, toegangsgelde is betaalbaar per vier en twintig uur, waarmee ek geen probleem het nie, maar om vir meer as twee ure te moes wag vir die uitreik van die nodige permitte is belaglik om die minste te sê. Die toegangsgelde vir die Selous was ook die duurste vir ons Afrikatoer, opsommend oor die gebied en sy beamptes en wat ons gesien het, is ek van mening dat dit nie ‘n besoek regverdig nie.

Om van Tanzanië na Mosambiek te reis word die Ruvumarivier gekruis, probleem daar is nie ‘n brug nie, net ‘n veerboot of soos daar in Afrika gepraat word ‘n “ferry”. Ons moes die Ruvuma kruis daarom was dit belangrik om op hoogte te wees van die stand van sake, alhoewel ons die kaptein se kontaknommer gehad het was daar ‘n probleem, die kaptein praat Swahili wat ons nie magtig was nie. Waar ons mense gekry het wat moontlik kon help het ons navraag gedoen om die nuutste inligting oor die ferry te bekom, probleem was dat die inligting die meeste van die tyd verouderd was. In Mtwara, net vyf en dertig kilometer van die Ruvuma, doen ons weer navraag by die polisie wat bevestig dat die ferry in bedryf is, baie in ons skik met hierdie goeie nuus maak ons reg vir hierdie avontuur, ja dit is ‘n avontuur want die watervlak van die rivier is so laag dat die ferry slegs tydens hoogwater gebruik kan word. Die een oor die Ruvuma het met ons gespook van voor ons reis en ook gedurende die reis, eers het vloedwaters dit meegesleur, daarna was daar ‘n meganiese probleem en uiteindelik kom deel twee, Suid-Afrikaaners wat in Mtwara woon, met ons die nuus dat die Ruvuma-ferry gesink het. Ons enigste moontlike alternatief, is ‘n ompad van bykans twee honderd kilometer, na waar ‘n brug in aanbou is, met ‘n bietjie geluk kan ons moontlik die rivier daar kruis, anders is dit terug deur Malawi. Vyf kilometer voor die “nuwe brug” is daar ‘n splinternuwe teerpad, dit lyk goed!  By die tydelike grens moes ons verneem dat die grensbeheerkantoor vyftien kilometer terug is by die tweede “village” die Ruvumaspook wil net nie tot ruste kom nie, ons moes terug oor houtbruggies wat elke keer lyk en voel jy was die laaste wat daaroor is voordat die handdoek ingegooi is.

Ons vier voertuie is oor die tydelike strukture wat gemaak is vir konstruksiewerkers,  hierdie rondte het ons gewen, hopelik sal ons die ander ook wen, daar is nog nie grensbeheer in plek aan die Mosambiek-kant nie, ons is in ‘n nuwe land, maar nie amptelik nie, ons volg ‘n bospad vir honderd en twintig kilometer voordat ons die volgende dag by Ngapa by ‘n beheerpos kom.  Hier kon ons die paspoorte teen ‘n prys laat stempel, eerste land waar ons moes betaal vir die diens. Nou is ons amptelik in die land, maar vir die carnets vir die voertuie moes ons nog verder tot by Mocumbua Da Praia. Met die carnets ook reg gestempel kon ons nou Mosambiek  verken, eerste padblokkade was by Aldeia waar vir ons fluitjie geblaas word soos vir skoolkinders om in die ry te kom staan, niks was verkeerd nie en baie teleurgestelde verkeersbeamptes moes ons laat gaan.

Die noorde van Mosambiek het nog ‘n groot agterstand om te verwek voordat dit toeriste vriendelik is, groot gedeeltes van die paaie kort dringend aandag, kampplek is min en dié wat daar is bied min teen buitensporige tariewe. Russels Place by Pemba was die enigste van dié waar ons gebly het wat aanbeveel kan word. By Blantyre Lodge kon ons weer lekker warm stort, ‘n luukse vir Afrika na die bekertjie-storte waaraan ons die laaste paar weke moes gewoond raak, ons het ook nader aan die huis begin kom, hier was ook weer sittoilette, om op jou hurke te sit oor ‘n gat in die grond was vir die meeste van ons ‘n aanpassing. Malawi was net ‘n deurgangsroete, weer na Mosambiek na, die Tete provinsie sodat ons by die Cahora Bassa Dam kon kom. By die grens was daar weer ‘n fooi gehef vir die stempel van die paspoorte, gelukkig was hier ‘n keuse, betaalbaar in Rand of  die Amerikaanse geldeenheid, ongelukkig bly die getal dieselfde, nodeloos om te sê ons gebruik ons eie geldeenheid om daarvoor te betaal.

Persoonlik sal ek nie weer hierdie land wil besoek nie, wees egter gewaarsku bly weg van agterpaaie in die reënseisoen om riviere soos die Save en Limpopo, (waar daar nog nie brue is nie), te wil kruis kan jou duur te staan kom.

Wat het die toer ons gekos; Eina!  Sal ek weer gaan?, Verseker!. Wanneer is die beste tyd om te gaan; middel Julie tot middel Oktober.

Verdere navrae.

 

 

 

 

Kaokoveld - Khaudom - Namibië - Richtersveld